GEORGE NUUS - Terwyl vakansiegangers en besoekers die heerlike sonskynweer die afgelope paar weke op die strande geniet het, moes nooddienste en lewensredders behoorlik bontstaan. Verskeie verdrinkings en talle byna-verdrinkings het op strande in die Tuinroete voorgekom.
Dit wil voorkom of daar selfs dalk meer verdrinkings en voorvalle was as in die vorige hoogseisoen.
Volgens ingeligtes is die situasie bemoeilik deur springgety wat die afgelope tyd voorgekom het.
Op 27 November het 'n seun (16) van Thembalethu in die moeilikheid beland in die rowwe see by Wilderness. Sy liggaam is later gevind.
Op dieselfde dag het 'n 36-jarige vrou van Mosselbaai by Glentana verdrink terwyl sy geswem het. Pogings om haar op die strand by te bring, was onsuksesvol en sy is op die strand dood verklaar.
'n Tienerseun (16) was meer gelukkig op 14 Desember by Wilderness-strand en sy lewe kon gered word danksy die NSRI en 'n lid van die publiek, Dion Kuter. Terwyl Kuter op die strand gestaan het, het hy gesien dat die seun in die gety vasgevang is.
Kuter het dadelik na hom geswem en hom gehelp totdat die NSRI hom 'n rukkie later te hulp gesnel het en hy veilig na die strand gebring is.
'n Meisie (10) het op 27 Desember by Wilderness strand verdrink en 'n man van Zimbabwe wat in George gewoon het, by Victoriabaai.
Op 1 Januarie is Mosselbaai se nooddienste se hulp net na 17:00 ingeroep na die Groot Brakriviermond waar 'n meisie (8) in die rivier verdrink het. Die meisie se liggaam is deur ander swemmers uit die water gebring waarna lewensredders van die nabygeleë Suiderkrans-strand en later die Mosselbaai se nooddienste probeer help het. Sy is egter op die toneel dood verklaar.
'n Dertigjarige man en 'n tiener (16) het hul lewens te danke aan die vinnige optrede van munisipale lewensredders by Wilderness se hoofstrand nadat hulle op 3 Januarie in die see in die moeilikheid beland het.
Jaco du Plooy (51) is verlede Donderdag, 5 Januarie, dood nadat hy by Fransmanshoek naby Vleesbaai deur branders van die rotse geslaan is. Die voorval het plaasgevind terwyl hy besig was om te hengel saam met sy seun en toekomstige skoonseun. (Lees die artikel langsaan.)
Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het Dinsdag gesê seestrome is die vernaamste oorsaak van verdrinkings langs die Suid-Afrikaanse kus.
Mike Vonk, NSRI-stasiebevelvoerder Wilderness, het gesê elke verdrinking is 'n tragedie. Daar is voortgesette pogings deur alle belanghebbendes om verdrinkings te probeer voorkom.
Dit is deel van wat die instansie doen en hy het benadruk dat hulle 'n spanbenadering handhaaf.
Verwante artikels:
- Man from George washed off rocks in Fransmanshoek
- Three saved from Wilderness Beach
- Jong meisie verdrink in rivier by Groot Brakriviermonding
- Multiple incidents on New Years day and incidents leading up to the new year
- Girl (10) drowns at Wilderness Beach
- Seun verdrink in dam naby Outeniqua-stasie, Glentana
- Teenager saved from drowning
- Vrou wat verdrink geïdentifiseer
- Beach day turns into horror day
- Dark day on Garden Route beaches
'Ons bring you die nuutste George, Tuinroete nuus'