GLENTANA NUUS - Die liggaam van 'n 17-jarige seun van Hoogekraal is vanmiddag deur die Wes-Kaap polisieduikers in 'n dam naby Outeniqua-stasie, Glentana gevind, nadat hy en twee maats vroeër op 'n selfgemaakte vlot op die dam gery het.
Volgens die skakelbeampte van die Groot-Brakrivier-polisie, sersant Lauriane Botha, het die seun se hand na bewering gegly, hy het sy balans verloor en het onder die water verdwyn.
Sy maats kon hom nie kry nie en die NSRI en polisie is na die toneel uitgeroep.
Sersant Botha het vanuit George op die toneel aangekom en het die familie bygestaan. Sy sê die seun se ma, Salomé Slinger (39) is baie emosioneel, hartseer en geskok oor haar seun se dood.
Hulle sou Sondag sy 18de verjaardag gevier het. Sers Botha het 'n beroep op die publiek gedoen om versigtig te wees en net te swem op plekke waar daar lewensredders is.
Sersant Lauriane Botha, skakelbeampte van die Groot-Brak-polisiestasie ondersteun die ma, Salomé Slinger, van 'n 17-jarige seun wat vandag by 'n dam naby Glentana verdrink het.
Inwoners van die area en familielede op die toneel waar die Wes-Kaap polisieduikers na die seun se liggaam in die dam gesoek het.
'Ons bring jou die nuutste Glentana, Tuinroete nuus'