Update
GEORGE NUUS - ‘n Verdagte is vanoggend in hegtenis geneem in verband met ‘n voorval waar ‘n man ‘n vrou Woensdagmiddag met ‘n byl gedreig het.
Die vrou het die man betrap waar hy klaarblyklik besig was om in haar huis, op die hoek van Searle- en Maitlandstraat in Blanco, in te breek.
Sy het hom gekonfronteer waarna hy haar met ‘n byl, wat na bewering onlangs by dieselfde woning gesteel is, gedreig het.
Hy het te voet van die toneel gevlug, maar is vroeg vanoggend, Vrydag 24 Mei, deur sers. Thando Kibido, ‘n speurder verbonde aan George-polisiestasie, en sy span, by ‘n huis in Golden Valley in Blanco, vasgevat.
Dit is reeds die vyfde inbraak by dieselfde huis die afgelope vyf weke. Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Die verdagte, wie se naam nie bekend gemaak kan word voor hy nie in die hof verskyn het nie, is tans in aanhouding.
Hy sal in alle waarskynlikheid Maandag in die George-landdroshof verskyn.
Lees 'n vorige artikel: Vrou gedreig met byl in Blanco
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'