Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - Twee skilderye van die ou tolhuis aan die voet van die Outeniquaberge het Gerda Stols, die dryfkrag agter die restourasie en bewaring van die historiese gebou, in trane gehad.
Die skilderye is deur Patrick Botto, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Mond- en Voetskilders in George, gemaak en is Maandag 30 Augustus aan Stols oorhandig.
Die skilderye beeld die tolhuis uit wat in 1845 gebou is, en een van die grootste toeriste-trekpleisters in die Suid-Kaap is. Dit het in 2018 afgebrand en die restourasiewerk is in 2020 voltooi. Hierdie skilderye word by die tolhuis uitgestal om saam te val met Internasionale Mond- en Voetskilderdag wat op Sondag 5 September gevier word.
Toe Stols, wat die geskenk as voorsitter van die Vriende van die Tolhuis in ontvangs geneem het, was dit verberg agter 'n groot rooi doek. Nadat sy die doek verwyder het, was sy duidelik aangedaan. "Dis verskriklik en ongelooflik mooi. Ek is hoendervleis, dit voel vir my of ons iets teruggekry het van die skat nadat die plek afgebrand het," het sy gesê.
"Die plan is om gestremdes by die tolhuis te vereer. Dit is 'n wonderlike toevoeging tot dit wat reeds daar is. Daar is reeds 'n rolstoelvriendelike paadjie en 'n ou klipmodel van die tolhuis met skrif in braille. Dit val saam met die einddoel dat almal welkom sal wees by die tolhuis."
Die skildery van die tolhuis nadat dit afgebrand het.Botto het gesê hy is baie dankbaar om namens die Mond- en Voetskilders iets vir die tolhuis te kan skenk. "Die tolhuis doen baie vir die gemeenskap. Almal ken die tolhuis in George."
Botto het aan George Herald vertel die skilderye het 'n lang aanloop. Hy het in Desember verlede jaar 'n stalletjie by 'n geskenkmark gehad en die organisasie se produkte is daar uitgestal.
"Gerda het my gesien skilder en was baie beïndruk. Sy het gevra of ek nie 'n skildery van die tolhuis kan maak nie. Ek het ingestem," sê Botto.
Kyk 2 video's hieronder:
Volgens hom was dit bietjie van 'n uitdaging om dit so getrou moontlik aan die werklike tolhuis te skilder. "Dit was baie aangenaam om dit te doen."
Belinda de Klerk, deel die bestuurspan van die organisasie se George kantoor, het gesê Botto het dit uit die diepte van sy hart gemaak.
Enigiemand wat meer wil weet van die Vereniging van Mond- en Voetskilders kan 044 873 4584 skakel.Die skildery van die tolhuis nadat dit herstel is.
IN SHORT:
Two paintings of the Old Tolhouse at the foot of the Outeniqua mountains brought tears to the eyes of Gerda Stols, the driving force behind the restoration of the historic buildings. The paintings were handed to Stols on Monday 30 August and were made by Patrick Botto, a member of the Mouth and Foot Painters Association, George. It was handed to Stols to coincide with International Mouth and Foot Painters day on Sunday 5 September.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'