GEORGE NUUS - Moenie dink predikante sit in die dae van inperking by die huis en niks doen nie. Al staan kerkgeboue Sondae leeg, is predikante in die streek hard aan die werk. Kerke span tegnologie in om hul gemeentes te bereik en by sommige word die kerkklokke ook gelui.
Pastoor Johan du Toit van die Pinkster Protestante sê hy werk van die huis af en gebruik onder meer sosiale media om met gemeentelede te kommunikeer.
"Ons moet kyk na die geestelike toestand van ons mense. Dis belangrik want mense kan nou maklik in depressie verval. Mense is bekommerd en weet nie wat wag nie. As geestelike leier moet jy nou vir hulle rigting aandui. Ons moet hulle help om positief te wees."
Hy sê mense het 'n wanbegrip van die kerk. "Ons dink die kerk is die gebou - die vier mure. Die kerk is eindelik die mense. Die kerk is nou nie meer binne in 'n gebou nie. Dit is nou daar buite."
Ds. Steve van der Walt van die NG Moedergemeente in George, sê gelukkig kan mense hom nog bel. "Ek het al selfs 'n virtuele koffie saam met iemand gedrink. Dit beteken, ons maak gebruik van WhatsApp-video-oproepe en dan drink ons saam koffie - ek in my plek en die ander persoon in sy plek. Ons kan mekaar sien en hoor terwyl ons op verskillende plekke is."
Tegnologie word ingespan en sedert die inperking word elke dag 'n geestelik opbouende boodskap saam met 'n teksgedeelte per WhatsApp, e-pos en Facebook gestuur.
"Ons kry baie goeie positiewe terugvoer. Mense waardeer dat daar steeds aan hulle gedink word, selfs tydens inperking. Ons eredienste neem ons by ons huise op en plaas dit op YouTube. Daar is ook klankgrepe beskikbaar vir mense wat nie baie data het nie. Ek moes baie vining leer om video-redigering te doen. Ons orrelis neem vir ons musiek op en stuur dit vir my sodat ek dit ook in die preekvideo’s kan inwerk. So mense kan selfs saam sing wanneer hulle na die dienste kyk."
Op Goeie Vrydag is 'n virtuele nagmaal gehou. "Ek het nagmaal aan my gesin bedien en dit op video opgeneem. Gemeentelede kon dus in hul eie huise saam met ons nagmaal gebruik.'"
Pastoor Steve Olivier van die Knysna Vineyard kerk sê sosiale media word ingespan. Elke dag word 'n videoboodskap aan gemeentelede gestuur en twee keer per maand word elke gemeentelid persoonlik gebel om na hul welstand te verneem,
Troues en begrafnisse moes uitgestel word. Hy het persoonlike ervaring daarvan. Sy eie moeder is onlangs oorlede en die troosdiens moes uitgestel word.
Ds. Peet Coetzee van die Gereformeerde kerk Stilbaai, sê lidmate ontvang elke Vrydag 'n e-pos met nuus en ook die preek wat hy die Sondag sou gelewer het. Die gemeente sluit plekke in soos Riversdal, Albertinia, Witsand, Jongensfontein en Heidelberg.
Op Woensdae en Sondae ontvang lidmate stemboodskappe per WhatsApp. "Tegnologie word gebruik om troos en leiding aan gemeentelede te verskaf."
Though it is difficult and challenging times, ministers and pastors are still very busy. While church gatherings are not possible because of the national lockdown, technology is used to get messages to congregations.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'