Gallery
GEORGE NUUS - Die jaarlikse Tamaaibraai van George se Vryburgers het Saterdag 9 April sy naam gestand gedoen.
Vleis is vir 516 mense by vyf tehuise, ACVV, Rosemoor, JJ Watson, Tuiniqua en Hoekwil, gebraai.
Dit was deel van 'n landwye projek van die Vryburgers, 'n diensorganisasie. Altesaam 2 954 mense by 31 tehuise regoor die land is betrek.
Van vroegdag is vleis op die kole geplaas en die heerlike reuk van braaivleis het in die lug gehang.
Van die vleis wat gebraai is, was 640 kg skaaptjops, 36 kg varktjops, 342 kg wors, 130 kg hoendersosaties en 107 kg hoenderporsies.
Een van die plekke waar gebraai is, was Tuiniqua-versorgingsentrum. Daar het oom Morkel Terblanche (88) op sy mondfluitjie gespeel. In 'n stadium het hy weggetrek met een van toeka se treffers, You are my sunshine en dit het selfs bewondering op die gesigte van die jonger garde gebring.
Alani Voigt, sentrumhoof, het gesê die inwoners sien elke jaar baie daarna uit om 'n skaaptjoppie te kan geniet. Die geleentheid beteken baie vir die inwoners. "Die inwoners geniet dit om besoekers hier te kan ontvang na die streng Covid-19-inperkings."
Hildred Basset, die basuin (woordvoerder) van die organisasie in George, het gesê dis 'n omgeeprojek waar daar weer teruggegee word vir die gemeenskap. Die vleis is hoofsaaklik deur die organisasie self aangekoop.
Die plan is om dit weer aanstaande jaar aan te bied. Dit was vanjaar 'n groot sukses en positiewe terugvoering is ontvang. Een van die inwoners van Tuiniqua het na die geleentheid spesiaal 'n dankie-sê-briefie geskryf.
Van die vleis wat gebraai is. Foto: Hildred Basset
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'