GEORGE NUUS - Die polisie ondersoek ‘n voorval wat vanoggend vroeg by die ingang by die Witfonteinbos plaasgevind het. Dit het net noord van die ou Hawthornedene-hotel plaasgevind.
Mense in die gebied is vanoggend op sosiale media gewaarsku om op die uitkyk te wees vir ‘n groep rowers wat “vrouestappers” van waardevolle besittings beroof het.
Blykbaar was 5 mans betrokke by die rooftog en hulle is glo gewapen met pangas.
Die rowers het met twee rugsakke - een swart en die ander ligblou - weggekom. In die rugsakke is onder meer koffiebekers, koffieflesse, ‘n rooi noodhulpsakkie, ‘n Cannon-kamera, ‘n Nikon-verkyker en selfone.
Kapt. Malcolm Pojie,polisiewoordvoerder, het aan die George Herald gesê die polisie stel ondersoek in en sal indien nodig later ‘n mediaverklaring uitreik.
Dit het later geblyk dat die slagoffers ‘n man, ‘n vrou en ‘n stapgids is wat die voëllewe in die gebied wou dop hou.
Betroubaar is verneem dat die polisie reeds op die toneel was en verklarings van die slagoffers gekry het. Die booswigte is glo in hul laat 20’s en vroeë 30’s.
Die George Herald sal meer besonderhede beskikbaar stel soos dit ontvang word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'