Leon Rossouw van Bloemfontein het in George gebly toe Simia Carolus (toe 16), haar boetie, Gereldo en hul stiefboetie, André Adams (albei toe 10) op 2 Oktober 2004 soos mis voor die son verdwyn het. Hy en die kinders se ma, Miena Carolus het oor die jare kontak behou en is hy vasberade om dié misterie op te los.
Rossouw het die week aan die George Herald gesê hy gaan aanhou tot hy "iets" kry en wil graag hê Carolus moet berusting vind.
"Wanneer een kind ontvoer word, kan mens jou nog indink hoe so iets kon gebeur het, maar drie kinders van dieselfde familie op een slag is byna ondenkbaar en dit maak nie sin nie. Ek wil graag vir hul ouers antwoorde gee."
Hy het nog geen nuwe leidrade om op te volg nie, maar hoop "iemand daar buite onthou iets van daardie dag en kom na vore". Alle leidrade wat deur die Conville-speurders opgevolg is, het op 'n dooiepunt uitgeloop. Nie eens die reuse beloning van die polisie en die George-munisipaliteit het inligting opgelewer nie.
Rossouw het verduidelik dat hy die ondersoek uit 'n ander hoek wil benader en hy beoog om weer onderhoude te voer met persone wat destyds die polisie met inligting gehelp het.
Die drie kinders het daardie oggend van 2 Oktober elkeen 'n R50 van Carolus ontvang om vir hulle skoene by Pep Stores in Sandkraalweg te gaan koop. Die winkel is sowat 750 meter van waar hulle woon, maar hulle het nooit daar uitgekom nie. Daar is vroeër beweer dat hulle die Saterdag ná hul verdwyning by die George-hospitaal saam met 'n vreemde vrou opgemerk is, en later die dag in die Blanco-area.
Mev. Carolus het gister gesê sy weet haar kinders leef nog en hoop steeds elke dag dat hulle huis toe sal kom.
"Die Here is in die saak, dis hoekom Leon nou weer daarna kyk. As ek so stil raak, maal duisende vrae in my kop - al die hoekoms en waaroms."
Sy sê dit is haar hartsbegeerte dat haar kinders gevind word en versoek dat enigiemand met inligting Rossouw skakel by 083 410 0900. Hy kan ook per e-pos gekontak word by info@detectives.co.za. Mense kan ook na die Facebook-blad van die drie kinders gaan kyk by www.facebook.com/MissingOurThreeKidS


André Adams en Gereldo Carolus
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS