Volgens raadslid Piet van der Hoven van die distriksraad het die Mosselbaai-gemeenskap ooreengekom om betrokke te raak by die herwinningsprojek om dit meer volhoubaar te maak en om weg te doen met die bakhand-mentaliteit wat daar geheers het.
"Die projek is ‘n reuse sukses en vervolgens het die Eden Distriksraad besluit om die projek in die hele streek uit te brei."
Tien wyke is geïdentifiseer naamlik George, Thembalethu, Blanco, New Dawn Park, Touwsranten, Wildernishoogte, Knysna, Oudtshoorn, Uniondale en Haarlem.
Van der Hoven het verduidelik hoe die herwinningskombuise werk. "Mense tel herwinbare items op en handig dit in by die sopkombuis en ontvang dan ‘n koppie sop.
"In die proses leer mense om herwinbare items om te skakel in kontant. Dit kan entrepeneurskap prikkel."
Die projek word dus deur die raad in stand gehou vir drie tot ses maande afhangende van die behoeftes wat verskil van plek tot plek.
Deur herwinbare items om te skakel in kontant, word volhoubaarheid verseker.
Die projek het dit ten doel om ‘n fasiliteit daar te stel om helpers in al die wyke te identifiseer wat mense help kos gee en om hulle op te lei in herwinning. "Dit kan uiteindelik daartoe lei dat ons omgewing skoner is.
"Die projek bevorder dus werkskepping, gebalanseerde voeding, opleiding en herwinning," sê ‘n entoesiastiese Van der Hoven.
Artikel: Itha Kieser
Die Eden Distriksraad oorhandig kombuisware om die sopkombuise te bevorder. Van links is raadslid Piet van der Hoven, Sophia Duiker en Jan Adams.
.jpg)
Maria Tyaliti in haar kombuis in Thembalethu is ‘n inspirerende vrou in eie reg. Sy bestuur ‘n sopkombuis vrywillig wat elke tweede dag sop verskaf aan ongeveer 80 kinders en 20 volwassenes.