GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-polisie is steeds op soek na 'n groep verdagtes ná twee winkels in die Pacaltsdorp-omgewing op Sondag 4 April in afsonderlike voorvalle beroof is. Beide die winkels behoort aan buitelanders.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorvalle binne slegs 40 minute van mekaar plaasgevind. "Die polisie doen 'n dringende beroep op die gemeenskap om inligting te verskaf wat kan help met die ondersoek," het hy gesê.
Die eerste voorval het omstreeks 18:40 by 'n huiswinkel in Missionstraat plaasgevind toe vyf onbekende verdagtes die winkel binnegaan het en die eienaar, sy assistent en twee klante beveel het om op die vloer te gaan lê. Drie van die verdagtes het die slagoffers glo met vuurwapens gedreig.
"Die verdagtes het na bewering te voet gevlug ná hulle 'n onbekende bedrag kontant, selfone, 'n Acer-skootrekenaar, 'n lugtydmasjien en sigarette gebuit het. Die eienaar van die winkel het ook twee afsonderlike skietwonde aan sy been en heup opgedoen. Hy is hospitaal toe geneem vir mediese behandeling," sê Pojie.
Die tweede voorval het kort daarna, omstreeks 19:20 by 'n huiswinkel in Primrosestraat naby die Schaapkoprivier wat New Dawnpark in Pacaltsdorp en Thembalethu skei, plaasgevind.
"Vyf onbekende verdagtes, waarvan sommige na bewering gewapen was, het 'n spazawinkel in Primrosestraat in New Dawn Park binnegedring en die mense in die winkel beveel om op die vloer te gaan lê terwyl hulle die ingang gesluit het. Hulle het te voet met 'n onbekende bedrag kontant, 'n Huawei-selfoon en 'n tablet, gevlug," sê Pojie.
Niemand is tydens dié voorval beseer nie.
Volgens 'n betroubare bron kan die naweek se voorvalle in Pacaltsdorp moontlik verband hou met soortgelyke voorvalle in Thembalethu waarin buitelandse winkeleienaars afgepers en uitgebuit word. Die bron, wat verkies om anoniem te bly, sê winkeleienaars word afgepers om 'n sogenaamde beskermingsfooi te betaal en indien hulle dit nie doen nie, word hulle en hul besighede teikens van gewelddadige rooftogte.
"Dit het ook nie net na Pacaltsdorp oorgespoel nie, maar ook na ander dele van George," sê hy.
By navraag kon Pojie dit egter nie bevestig nie.
"Die moontlikheid dat die Pacaltsdorp-rooftogte aan die voorvalle in Thembalethu verbind kan word kan nie in hierdie stadium bevestig word nie, maar dit vorm beslis deel van die ondersoek. Met die huidige bewyse byderhand blyk dit egter 'n normale besigheidsroof te wees totdat verdere bewyse gevind word om die teendeel te bewys," sê Pojie.
Die rooi pennetjie dui aan waar die voorval in Primrosestraat in New Dawnpark plaasgevind het. Regs daarvan lê die Schaapkoprivier wat die area van Thembalethu skei.
'n Voorval in Desember
In Desember verlede jaar het twee gewapende rowers net voor toemaaktyd, omstreeks 19:50, by 'n winkel in Proteastraat toegeslaan. Hulle het die kasregisters leeggemaak en ook sigarette gebuit voordat hulle in die winkeleienaar se wit Hyundai-trokkie gevlug het.
Niemand is tydens die voorval beseer nie en die voertuig is later verlate in 'n oop veld in New Dawnpark naby die Schaapkoprivier, gekry. Die verdagtes het na bewering te voet in die rigting van Thembalethu gevlug.
Enigiemand met inligting rakende die nuutste voorvalle word versoek om die ondersoekbeamptes, ao. Vicky Gibson of ao. Cindy Horne van die Pacaltsdorp-speurders by 044 803 9100, 079 894 1589 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'