GEORGE NUUS - Die polisie in Pacaltsdorp is steeds opsoek na twee gewapende rowers wat gisteraand (Donderdag, 3 Desember) by ‘n winkel in Proteastraat toegeslaan het. Die voorval het voor toemaaktyd omstreeks 19:50 plaasgevind.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het twee mans met vuurwapens die winkel binnegekom.
Hulle het die kasregisters, waarin die dag se kontant was leeggemaak en ook sigarette gebuit voordat hulle in ‘n winkeleienaar se wit Hyundai-trokkie gevlug het.
“Niemand is in die voorval beseer nie en die voertuig is vroeër vandag verlate in ‘n oop veld in New Dawnpark, naby ‘n informele nedersetting by die Schaapkoprivier, gekry.
"Ons vermoed die rowers het van daar te voet in die rigting van Thembalethu gevlug. Ons ondersoek ook die moontlikheid dat nog verdagtes betrokke was. Die twee verdagtes wat in die winkels was, het maskers gedra en geen arrestasie is nog gemaak nie,” het Pojie gesê.
Enigiemand met inligting oor die voorval, kan die ondersoekbeampte, ao. J Rondganger skakel by 044 803 9130 of 073 946 6473.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'