Update Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - Die Rosedale-plakkersgemeenskap was Woensdag 5 Junie letterlik in vuur en vlam na nog 'n hut afgebrand en 'n man beseer is. Kerneels Kaplot, 'n buurtwaglid van die area, sê een hut het heeltemal uitgebrand en vier ander is beskadig.
Inwoners sê die hut wat afgebrand het, is glo 'n plek waar al die slegte dinge in die buurt gebeur of gesteelde goedere weggesteek word. Baie sê weer hulle mag nie regtig oor die 'verkeerde dinge' wat in die plakkerskamp aangaan praat nie, want dan is hulle teikens.
George Herald het sowat vyftien minute na die brandweer op die toneel aangekom, en die beseerde man het steeds gewag vir ’n ambulans.
Heinrich Klaasen was aan die slaap toe die brand uitgebreek het en het brandwonde aan sy hande opgedoen toe hy help keer het dat die brand versprei. Van die vroue het klere, komberse en kos uitgedra sodat die mense wat daar woon nie alles verloor nie.
Gemeenskapslede het glo amper 'n uur vir die brandweer gewag om die vuur te blus.
Kaplot sê hulle is van bakboord na stuurboord gestuur om uiteindelik die brandweer te ontbied. "Ons word elke keer na iemand anders deurgesit. Daar was drie nommers wat ons moes bel voor ons by hulle uitgekom het. Moenie eers van die ambulans praat nie. Hulle ry gewoonlik op en af en kom nooit by die noodgeval uit nie, maar vra nie waar die mense bly nie."
Hy meen 'n oplossing vir situasies soos dié, kan wees om buurtwaglede op te lei om brande te blus.
Charmelle Volkwyn en Fransiena Manuel sê dit sal help as die krane werk. Manuel sê sy het amper 'n jaar baklei vir 'n kraan, en al loop dit stadig het dit gehelp om die vuur te blus.
Heinrich Klaasen se hande het verbrand. Hy was aan die slaap toe die brand begin het.
Chantel Edwards-Klose, die munisipale woordvoerder, sê die eerste oproep is deurgegee deur die George-verkeer omstreeks 10:58 waarna die eerste brandweerwa omstreeks 11:07 op die toneel was.
"Met aankoms was een informele struktuur reeds ten volle in vlamme en twee strukture het beperkte skade opgedoen. Een onbekende manlike persoon het aan beide hande brandwonde opgedoen."
Die oorsaak van die brand is onbekend.
Sy sê die direkte nommer wat inwoners moet skakel om die brandweer te ontbied is 044 801 6311.
"Die opsit /uiteensetting van brandkrane in woongebiede maak deel uit van die ontwikkelingsfase wanneer woongebiede ontwikkel word. Die gebruik van brandkrane tydens brandbestryding vereis spesiale toerusting vir die werking / gebruik daarvan en brandweermanne ontvang gespesifiseerde opleiding vir die verskeie gebruike daarvan. Beperkte brandkraanopleiding word wel deur brandweerdienste aan die publiek verskaf," sê Edwards-Klose.Die Rosedale-plakkersgemeenskap was gister letterlik in vuur en vlam na nog 'n hut afgebrand en 'n man beseer is. Foto: Kristy Kolberg
Heinrich is in erge pyn na sy hande in die brand seergekry het.
Lees 'n vorige artikel: 1 beseer in brand
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'