GEORGE NUUS - Niemand het nog vorendag gekom om eienaarskap te neem van 'n plakkershut waar 'n man erge brandwonde aan sy hande opgedoen het nie.
Die brand wat sowat drie weke gelede in Rosedale uitgebreek het, het een plakkershut vernietig en vier ander strukture beskadig. Volgens George-munisipaliteit kan hulle ongelukkig niks doen as niemand eienaarskap van die erf en huis neem nie.
Die munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê dat hulle ook nie die leë erwe aan enigiemand anders gaan toeken nie omdat daar reeds meer as 500 families woon.
"En met die behuisingsprojek wat kom beteken dit dat mense sal moet verhuis en geen nuwe erwe gaan toegeken word nie."
Sy het gesê boumateriaal sal aan die regmatige eienaar gegee word sodra die persoon vorendag kom.
George Herald het op 6 Junie in die berig, 'Rou en roet na plakkersbrand' oor Heinrich Claassen se verbrande hande berig. Hy het glo geslaap toe die brand ontstaan het. Gemeenskapslede wat na die tyd met George Herald gesels het, het gesê dis heel moontlik dat die brand ontstaan het omdat 'n vuur die vorige aand nie reg geblus is nie en die wind sterk gewaai het. Mark van den Heever, woordvoerder vir EMS-nooddienste sê die Tuinroete-kommunikasiesentrum het die oproep vir 'n ambulans rondom 11:18 op 6 Junie vanaf die polisie gekry. "Ons personeel was om ongeveer 12:43 op die toneel waarna die persoon behandel en na die George-hospitaal geneem is."
Sommige inwoners is egter bly dat niemand die erf geëien het nie, omdat hulle niemand daar wil hê nie. Daar is gesê dat die huis wat afgebrand het glo gebruik is as 'n plek vir bose bedrywighede, asook om gesteelde goedere weg te steek. Niemand wou dit egter reguit sê nie uit vrees dat hulle, hul huise of familie geteiken kan word. "Maar iemand kan darem net die gebrande goed hier kom weghaal," het een persoon gesê.
Daar is ook teenoor die George Herald gekla oor nie genoeg werkende krane nie, die min toilette en dat sommige inwoners twee erwe langs mekaar het terwyl ander niks het nie. Van die buurtwaglede wat op die toneel was, het gevra vir opleiding indien daar 'n noodgeval is. Hulle het ook gevra vir brandkrane in Rosedale omdat sommige krane nie werk nie.
Die versoek is aan die George-munisipaliteit gestel, en volgens kommunikasiebestuurder, Chantel Edwards-Klose, is die uiteensetting van brandkrane in woongebiede deel van die ontwikkelingsfase wanneer woongebiede ontwikkel word.
"Die gebruik van brandkrane tydens brandbestryding vereis spesiale toerusting vir die werking of gebruik daarvan en brandweermanne ontvang gespesifiseerde opleiding vir die verskeie gebruike daarvan."
Sy het gesê die brandweer bied wel beperkte brandkraanopleiding aan die publiek. Sy sê ook dat krane verskaf word op 'n ratio van een kraan vir 25 families en een toilet vir elke vyf strukture. Daar is tans 500 strukture in die Rosedale-plakkerskamp en 125 toilette.
Oor die kwessie dat twee erwe blykbaar aan een persoon behoort, sê die munisipaliteit dat die erwe leeg is omdat begunstigdes nog nie daarop gebou het nie. Edwards-Klose sê 'n bewusmakingsprogram begin na die skoolvakansie en belangstellendes kan die brandweer kontak vir meer inligting indien hulle wel belangstel in opleiding vir noodgevalle.
Die brandweer maak seker die vuur is geblus na 'n brand 'n stuktuur vernietig het en 'n ander beskadig het. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'