Gallery
GEORGE NUUS - Outeniqua Vervoermuseum was vol Duitse feestelikheid tydens die sewende Kwagga-langtafel van Hoërskool Outeniqua. Gaste van hierdie kalenderhoogtepunt is verlede Vrydag, 22 April, met apfelschnaps, 'n oompah band en Duits-geïnspireerde dekor verwelkom.
Die sowat 650 gaste het die tema ter harte geneem en met hul Duitse uitrustings bygedra tot 'n heerlike atmosfeer. Dit was net kruisbande, voorskote en hoedjies waar jy kyk!
Eregas Minki van der Westhuizen het spesiale glans aan die spoggeleentheid verskaf. Sy het onder meer hand bygesit met die trekking van pryse aan gaste wat lojaal bygedra het tot die Kwagga Eeufees-ondersteunersprojek.
Ouers van die skool, verskeie besighede en ondersteuners van hierdie heerlike fondsinsamelingsgeleentheid het ontspan met 'n glas vars getapte bier, Duitse vleissnitte en ander lekkernye.
Hoofborge van die geleentheid, Chris en Natasha Liebenberg van Grocery Express, het die geleentheid mooi opgesom: "Die aand is altyd 'n wonderlike geleentheid waar daar lekker saam met kollegas en vriende gekuier word."
Skoolhoof Christo Vorster het almal bedank - waaronder die 15 amptelike borge - wat bygedra het tot 'n fantastiese aand, en gaste herinner dat die skool se eeufeesvieringe om die draai is. Die hele geleentheid is deur 'n vrywillige ouerkomitee aangebied.
Hoërskool Outeniqua beplan 'n groot makietie met sy 100-jaar viering volgende jaar, 2023, en hoop om almal daar te sien.
Oompah International Band het gesorg vir 'n feestelike atmosfeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'