Update
GEORGE NUUS - Die polisie het met ‘n grootskaalse soektog begin na 5 verdagtes wat na bewering betrokke was by ‘n rooftog vroeg vanoggend op ‘n wandelpad.
Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder het aan die George Herald gesê die slaggoffers is toeriste en is beroof van goedere ter waarde van sowat R110 000. Die voorval het plaasgevind op ‘n wandelpad tussen Plantasieweg en die Witfonteinbos.
Die saak is onder die aandag van die polisie gebring deur ‘n 62-jarige vrou van Graaff-Reinet. Sy en ‘n vriend van Kaapstad was saam met ‘n gids aan die voete van die Outeniquaberge besig om foto's van voëls te neem. Hulle het in die rigting van Witfontein gestap. Vyf onbekende mans het hulle genader. Aanvanklik het hulle vriendelik voorgekom, maar een van die mans het skielik ‘n panga te voorskyn gebring. Die slagoffers is toe gedreig en die booswigte het aangedring op hul besittings.
Onder die goed wat hulle gesteel het was twee rugsakke, ‘n digitale kamera, ‘n selfoon, kredietkaarte, kontant en die sleutels van die slagoffers se voertuig. Die booswigte het toe die hasepad gekies.
Die polisie bygestaan deur lede van sy honed-eenheid en ander reaksie -eenhede het kort daarna met die soektog begin. Geen spoor van die booswigte kon gevind word nie en niemand is in die voorval beseer nie.
Die polisie doen ‘n beroep op enigeiemand wat inligting oor die voorval het AO Jerome Malan te bel by 044 803 4715 of Stop Missaad by 08600 10111.
Die polisie het vakansiegangers gevra om te alle tye oplettend en waaksaam te wees. Sluit waardevolle besittings eerder in die kattebakke van voertuie toe.
*Die George Herald het vroeg vanoggend berig dat ‘n rooftog plaasgevind het.
Mense in die gebied is op sosiale media gewaarsku om op die uitkyk te wees vir ‘n groep rowers wat “vrouestappers” van waardevolle besittings beroof het. By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit drie slagoffers was - ‘n man, ‘n vrou en ‘n stapgids wat die voëllewe in die gebied wou dop hou.
Lees 'n vorige artikel hier: Stappers van besittings beroof
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'