GEORGE NUUS - Pink Trees for Pauline begin weer in September met die 2018-fondsinsameling vir Kansa. Vanjaar is die projek vernuwe met #doekwithadifference ('n kopdoek of serp) in assosiasie met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).
Die projek streef daarna om geld in te samel spesifiek vir versorging- en ondersteuningsprogramme vir kankerpasiënte en diegene wat deur kanker geaffekteer word.
Adri Jansen van Nieuwenhuizen, besturende direkteur van Pink Trees for Pauline, verduidelik: "Individue en maatskappye kan steeds die projek ondersteun deur die kenmerkende pienk materiaal teen R25 per meter te koop en dan bome daarmee toe te draai.
Ons is baie opgewonde oor die toevoeging van #doekwithadifference wat verkoop word teen R70 elk om geld in te samel. Hierdie doeke is ook beskikbaar in groen. Ons hoop om die koppe te laat draai en bewusmaking te skep vir die uitdagings wat mense wat kanker beveg in die gesig staar, asook hulle reg tot toegang tot kankerbehandeling."
Pienk materiaal en doeke is beskikbaar by alle Kansa Sorgsentra landwyd.
Pink Trees for Pauline en Kansa hoop om individue en maatskappye te inspireer om materiaal en doeke te koop en te verkoop en sodoende geld in te samel.
Gedurende 2017 was Pink Trees for Pauline aktief in sowat 140 dorpe. Kansa gebruik alle geld wat deur die projek ingesamel word vir akkommodasie van pasiënte tydens kankerbehandeling, tuis-gebaseerde behandeling, voedingskemas asook opleiding van maatskaplike werkers, prostese, pruike en rolstoele.
"Kontak jou naaste Kansa Care Centre, tolvry by 0800 22 66 22 of e-pos: info@cansa.org.za of besoek www.cansa.org.za om jou 'Doek with a difference' of pienk material te koop."
Vir meer inligting oor die 2018 Pink Trees for Pauline-projek kontak Adri Jansen van Nieuwenhuizen by adri@pinktrees.co.za. of gaan na www.cansa.org.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'