Verlede Donderdagaand het ongeveer 200 inwoners met die polisie in die Rosemoor-gemeenskapsaal vergader en dit duidelik gemaak dat die nuutgestigte vredemakers-gemeenskapsorganisasie (Peacemakers) self die probleem gaan aanspreek. Onder leiding van mnr. Andries Louw (bekend as Mongi), is dit aan die polisie oorgedra: "Genoeg is genoeg."
Louw het gesê: "Die mense is moeg. Ou mense se pensioengeld word geroof. Skerp voorwerpe en ander gevaarlike wapens word gebruik. Arm mense se laaste stukkie brood word uit hul mond geroof."
Louw het die polisie daarvan beskuldig dat hul reaksietyd te stadig is. "Ons as die 'Vredemakers' voel daar moet meer gedoen word om die polisie te help om misdaad te bekamp. Die polisie is gekant teen die feit dat die 'Vredemakers' stokke en kieries by hulle dra as hulle die bendegeteisterde gebiede patrolleer, maar ons kan onsself nie met kaal hande verdedig teen bendelede wat met byle en pangas rondloop nie."
Die speaker van die George-stadsraad, me. Mercia Draghoender het as inwoner van dié woonbuurt, gesê sy haal haar hoed af vir die 'Vredemakers'. Ook sy het gesê: "Genoeg is genoeg." Draghoeder het soos Louw die polisie se reaksietyd bevraagteken. Woedend het sy in onvoltooide sinne gesê: "As ons die skollies vang... ek sê nie slaan hulle nie... maar..."
Uit die gehoor het 'n man geskreeu: "Ons wil nie die mense doodmaak nie. Ons gaan hulle net seermaak." 'n Ander het sy gevoel sterk uitgespreek en gesê: "Daar is 'n internasionale beleid wat sê jy onderhandel nie met terroriste nie."
Kapt. Bettie May, van die sigbare polisiëring by die Conville-polisiestasie het die ontstoke inwoners ingelig oor hoe die polisie se reaksie op klagtes werk. Sy het verduidelik dat ernstige klagtes voorkeur geniet. Volgens May is daar wel 'n tekort aan personeel. "Ons versoek die gemeenskap om geduldig te wees."
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het Maandag 'n ernstige be-roep op mense gedoen om nie reg in eie hande te neem nie. "Ons verwelkom hulp van die gemeenskap, maar dit moet binne die raamwerk van die wet geskied."
* Residents of Rosemoor, Protea Park and Lavalia took a strong stand against gang-sterism, which is on the increase in these areas. They have established a group called The Peacemakers - residents who patrol the area in an effort to solve the problem. They have also threatened to take the law into their own hands.

Speaker Mercia Draghoender wou verlede Donderdagaand by die polisie weet wat hulle reaksietyd is ten opsigte van klagtes in die Rosemoor-omgewing. Inlas: Mnr. Andries Louw, 'n lid van die 'Vredemakers' spreek sy kommer uit oor bendeverwante misdaad in Rosemoor.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS