Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die George Herald, saam met die George-sportgemeenskap, is swaar getref deur die skielike dood van André Stander.
Hy het verlede Vrydagaand op 'n skoolreünie by PW Botha-kollege aan vermoedelik 'n hartaanval gesterf.
Hier is Hugo Redelinghuys, sportredakteur van die George Herald, wat 'n pad van bykans ses jaar saam met André op die sportvelde van die Suid-Kaap gestap - en meermale gedraf - het, sê huldeblyk aan hom.
Verstand en hart wil dit haas nie vat nie: André Stander, my regterhand en boesemvriend, se wedloop op aarde is voltooi.
Dat dit juis nóú en op só 'n manier moes gebeur, laat mens met meer vrae as antwoorde. Nou deurgrond ons dit nie.
In ons uur van skok en ontsteltenis is dit seker nie die beste tyd vir 'n behoorlike bepaling van wat ons alles verloor het met die dood van André Stander nie. Dat hy 'n groot leemte laat in die George-sportgemeenskap is gewis.
Met André se dood het ek 'n kameraad verloor met wie ek weekliks, vir ses jaar lank, sy aan sy gemarsjeer het.
Dis moeilik om oor iemand te skryf wat mens só relatief kort geken het hoewel ons die spreekwoordelike sewe sakke sout saam opgeëet het. Maar ek glo ek kan sonder enige mate van teenspraak dié stelling maak: André Stander was 'n onbaatsugtige vriend wat sport met volkome toewyding gedien het.
Benewens sy opregte belangstelling in sport het André bewese ervaring gehad wat geld nie kan koop nie, deeglikheid en dryfkrag, nougesette toewyding aan spertye en afsprake, en al die instinkte en vaardighede wat 'n sportjoernalis maar kan begeer.
Sy kennis en insigte, advies en hulp het van hom 'n gedugte spanspeler gemaak hoewel hy goed op eie houtjie kon regkom. Tog het hy verkies om vir die span uit te draf.
Hy was opreg, sodat nóg vriend nóg vyand ooit in twyfel gelaat was oor waar hulle met hom staan. 'n Skewe woord oor iemand in sy of haar afwesigheid het hy altyd ferm gesmoor.
Lojaal, toegewyd, betroubaar en koersvas is van die kwaliteite waaroor André ruim beskik het. Sy karakter en lojaliteit aan mense en sy beginsels was onkreukbaar. Sy werk, veral wat klubrugby- en padwedloopuitslae betref, was meesal 'n onbenydenswaardige skof wat hy met die grootste toewyding en entoesiasme vervul het. En só - dalk onwetend - die druk grootliks op 'n Maandag van my skouers verlig het.
'n Gereelde gesig: drie kamerade saam op die rugbyveld by Outeniquapark. Van links: Hugo Redelinghuys, Anton Gericke en André Stander. Steelfoto: Deidre Cloete
Sy liefde en toewyding aan sy vrou, kinders en kleinkinders is navolgenswaardig en 'n voorbeeld van 'n innerlike integriteit vir almal met wie hy in sy daaglikse handel en wandel te doen gehad het.
Daarom voel mense magteloos om trooswoorde te spreek tot sy vrou, Magda, en die familie van kinders en kleinkinders en ander verwante. George se harte gaan uit tot hulle onmeetlike verlies.
Sy vrou, Magda, se hulp en bydrae tot André se voortreflike diens aan die George-sportgemeenskap - en meer spesifiek die George Herald se sportbladsye - moet geensins gering geskat word nie. Ons innige dank hiervoor.
Ek treur oor die heengaan van 'n lewenslange vriend.
Ek, nee ons, het 'n mensch verloor en die troos ontwyk ons nog.
Dankie ou maat vir jou hulp die afgelope jaar, sê Piet Cloete (regs), sporthoof van Hoërskool Outeniqua, vir André Stander. Die Kwaggas het André baie na aan die hart gelê.
André Stander (links) saam met Kristy Kolberg, misdaadverslaggewer van die George Herald, en Hugo Redelinghuys, sportredakteur, by die Eden-sportraad se jaarlikse sporttoekennings. Hy is in 2016 deur hulle as sportskrywer van die jaar vereer, 'n toekenning wat die Wes-Kaapse departement van sport en ontspanning ook aan hom gemaak het.
Kyk twee videos hieronder:
Kyk 'n langer weergawe van die video hier.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'