Update
GEORGE NUUS - Die twis tussen die eienaars van Lancewood en die vakbondlede wat verlede week aan 'n wettige plakkaatbetoging in die Hoekwil-omgewing deelgeneem het, het wel tot 'n einde gekom, maar daar is nog 'n vlieg in die salf.
Van die werkers gaan dissiplinêr verhoor word deur 'n arbeidsprokureur omdat hulle na bewering die reëls van die betoging verbreek het. Dit kan tot hulle afdanking lei.
Die eienaars, die vakbondlede en die CCMA het Woensdag 21 Junie op die plaas in Hoekwil vergader in 'n poging om 'n einde aan die staking te bring. Die voorafgaande naweek het geweld tydens die staking uitgebreek.
Clarence Mtyenele, adjunk-sekretaris-generaal van die Building, Wood and Allied Workers' Union of South Africa (BWAWUSA) het Dinsdag 27 Junie gesê hulle het tot 'n vergelyk gekom.
Volgens hom sal die werkgewer nou 'n verhoogde salaris van R26 per uur betaal. Dit was voorheen R25,44.
"Dit was 'n gee-en-neem situasie," het hy gesê.
Die vakbond is egter nou baie ongelukkig want die werkgewer vat nou die aangeleentheid verder.
'n Proses is aan die gang wat kan lei tot die ontslag van sommige van die werkers. Hy het dit beskryf as onderhandeling in kwade trou (bad faith) van die werkgewer se kant. Die werkgewer was daarvan bewus toe hulle by die onderhandelingstafel gesit het.
"Hulle kan dit nie doen nie, want dit was 'n wettige staking."
Mark Rubin, eienaar van Lancewood, het by navraag bevestig dat 'n ooreenkoms bereik is. Volgens hom was dit 'n wettige betoging, maar al die reëls daarvan is verbreek. Dit het gevolge.
'n Verhoor sal met 'n behoorlike arbeidsprokureur plaasvind.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’