Update Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - Die eienaars van Lancewood, vakbondlede en die CCMA het gister op die plaas in Hoekwil vergader in 'n poging om 'n einde aan die staking te bring wat die naweek in geweld uitgebreek het.
Voor die vergadering het Clarence Mtyenele, adjunk sekretaris-generaal van die Building, Wood and Allied Workers' Union of South Africa (BWAWUSA) gesê die plakkaatbetoging en staking gaan voort tot daar aan hul eise vir hoër salarisse voldoen word.
Mtyenele het vroeër die week die ontevrede werkers besoek, na geweld Saterdag uitgebreek het en agt werkers glo met rubberkoeëls gewond is. Dit volg na 'n groep werkers Vrydag 16 Junie by die plaas begin betoog het vir hoër salarisse na hulle toestemming van die CCMA vir die betoging ontvang het.
Volgens Lancewood het voorvalle van geweld Saterdag 17 Junie voorgekom en die polisie en lede van privaat sekuriteitsmaatskappye het ingegryp.
Mtyenele het gesê agt werkers is deur privaat sekuriteitsmaatskappye raakgeskiet en so erg beseer dat hulle hospitaalbehandeling moes ontvang. Volgens hom is die werkers baie ongelukkig oor die optrede.
Hy het gesê die vakbond is sedert Maart vanjaar in gesprek met die eienaars van die plaas. Die plakkaatbetoging het begin nadat die CCMA se poging om dit op te los, gefaal het.
Volgens Mteynele is daar niks onrealisties aan die vakbond se eise nie. Hy het gesê die enigste uitdaging wat die vakbond moet hanteer is 'n arrogante werkgewer wat die werkers se regte onderdruk.
Van die werkers Dinsdag besig om te betoog.
Oproer
Lancewood voer aan dat vakbondlede Saterdag een van Lancewood se plaasvoertuie by hul hoofhek met glasbottels aangeval het en dat 'n venster gebreek is toe die drywer met bottels bestook is.
Lancewood sê die vakbondlede het die pad met dooie diere en ander voorwerpe blokkeer en dat van die vakbondlede openlik alkohol in die openbaar gebruik het.
Mtenyele het dié beweringe ontken en gesê Lancewood moet dit bewys. "Ons wil nie geweld hê nie. Die werkers het 'n reg om te staak. Ek is positief dat ons die aangeleentheid sal kan oplos."
Maandag en Dinsdag is geen insidente by die polisie aangemeld nie.
Clarence Mtyenele, adjunk sekretaris-generaal van BWAWUSA .
Partye om 'n tafel
Mark Rubin, eienaar van Lancewood, het Dinsdag gesê hulle het gehoor dat Mtyenele die toneel besoek het. Hy het hulle Dinsdag gekontak en wou op kort kennisgewing 'n vergadering hê. Dit was onmoontlik vir Lancewood om die vergadering Dinsdag by te woon, maar dit is toe vir Woensdag 21 Junie belê.
Die vergadering het gister om 10:00 agter geslote deure op die plaas begin. Dit is deur verteenwoordigers van beide partye sowel as die CCMA bygewoon.
Die vergadering is voor midddagete verdaag en sou om 13:00 voortgaan. Gedurende die pouse het beide partye aan George Herald gesê daar is reguit gepraat en met tye was die atmosfeer gespanne.
Rubin het gesê hulle probeer 'n middelgrond en oplossing vind en dat dit belangrik is dat die werkers terugkeer werk toe en weer salarisse ontvang. Hy het benadruk Lancewood bly verbind om 'n oplossing te probeer vind.
Mteynele het gesê hulle sou na afloop van die vergadering met hulle lede konsulteer en oor die pad vorentoe besin.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het vroeër gesê George-speurders ondersoek verskeie klagtes wat op 16 en 17 Junie ontvang is.
Van die sake wat ondersoek word is poging tot moord, beskadiging van eiendom, intimidasie, diefstal en openbare geweld. Niemand is aangekeer nie en die ondersoek gaan voort.
Die betoging raak nie werksaamhede by die Lancewood-fabriek in die industriële gebied in George nie. Dit is twee verskillende instansies wat onafhanklik van mekaar staan.
Clarence Mtyenele het die foto's aan George Herald gestuur. Hy voer aan dit is wonde wat vakbondlede opgedoen het tydens die staking toe hulle met rubberkoeëls geskiet is.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’