Update
GEORGE NUUS - Die restourasie aan die binnekant van die geskiedkundige ou tolhuis in die Montagupas is voltooi. As deel van die vieringe, word 'n konsert Saterdag die eerste keer in die nuwe gerestoureerde gedeelte gehou.
Die geld wat ingesamel word, sal hoofsaaklik gebruik word vir verskerpte veiligheidsmaatreëls by die tolhuis en die bou van 'n waenhuis.
Die tolhuis, wat meer as 170 jaar oud is, en een van George se mees historiese geboue, is erg beskadig tydens die brande in Oktober 2018.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het Dinsdag gesê die voltooiing van die restourasiewerk aan die binnekant is 'n mylpaal. Die restourasie is onder die vaandel van die Vriende van die Tolhuis gedoen.
Na die brande moes hulle eers 10 maande wag vir toestemming en vir dinge om in plek te val. Toestemming moes verkry word van Wes-Kaap Erfenis, CapeNature en die departement van publieke werke.
Restourasie het amptelik op 24 September 2019, Erfenisdag, begin. Volgens haar was dit dié keer makliker om die tolhuis te restoureer as die eerste keer in 2014. Daar was wel verskeie uitdagings soos om al die boubenodighede te bekom en borge te vind.
"Sonder die borge sou ons dit nie kon doen nie. Soos gewoonlik het die gemeenskap van George gehelp," het Stols gesê.
Die totale waarde van die restourasiewerk beloop sowat R500 000. Dit sluit in die dak, die vensterrame en die dienste van die klipkapper en kenner, Joost Pyck.
Saterdagaand se geleentheid sal die vorm van 'n kunsliedere kamerkonsert aanneem en begin om 18:30.
Verwante artikels:
- Tolhuis kry Lucas se kruis
- Twis dreig oor Museum-stukke vir Tolhuis
- Ou Tolhuis kry dalk hupstoot
- Herstelwerk van Tolhuis op koers
- Tolhuis spog met splinternuwe dak
- Herstelwerk aan ou Tolhuis vorder
- Herstelwerk aan tolhuis begin
- Herstel werk op tolhuis begin
- Tolhuis word herstel
- Tolhuis kry groen lig
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'