GEORGE NUUS - As alles volgens plan verloop, gaan die geskiedkundige ou tolhuis in die Montagupas 'n hupstoot kry. 'n Sterk moontlikheid bestaan dat van die vervoer-items in die George-museum op bruikleen aan die tolhuis beskikbaar gestel gaan word.
Dit sal beteken dat die ou tolhuis as 'n soort satelliet-instansie van die museum kan dien. Planne is egter nog in 'n vroeë stadium.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, wil nie gesprekke vooruit loop nie. "Ek is baie opgewonde oor die moontlikheid. Dit sou beteken die tolhuis is 'n museum in die kleine."
Daar is verskeie geskiedkundige vervoeritems by die museum soos byvoorbeeld 'n ossewa. Die tolhuis, wat meer as 170 jaar oud is, is erg beskadig tydens die brande in Oktober 2018, maar die nuwe dak is op en herstelwerk aan die klipwerk onder leiding van klipkapper Joost Pyck, is voltooi.
Hy is bygestaan deur Joulian Roelfse. Stols sê hulle het tydens die vakansie 'n groot toeloop gehad.
"Ons sê baie dankie vir die gemeenskap van George vir hulle hulp. Ek beskou dit as 'n groot voorreg om by die tolhuis betrokke te wees."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'