Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Byna 'n jaar na die verwoestende brande in Oktober verlede jaar groot skade in die gebied aangerig het, het die geskiedkundige ou tolhuis in die Montagupas weer 'n dak.
Die tolhuis, wat meer as 170 jaar oud is en een van George se mees historiese geboue, is erg beskadig tydens die brande.
Die nuwe dak is onlangs aangebring en daar is ook reeds begin met die klipwerk. Vir dié doeleindes is 'n klipkapper en kenner, Joost Pyck van Stellenbosch, nader geroep en hy word bygestaan deur Joulian Roelfse.
Die afgelope naweek was hulle reeds druk besig. Dit is harde fisiese werk.
Na verwagting sal die tolhuis in Desember tot sy volle glorie herstel wees.
Kyk 'n video hieronder.
Tydens die George Herald se besoek het Pyck gesê dit is nie moeilike werk nie, maar mens moet geduldig wees.
Die klippe moet bymekaar gemaak word en waar nodig, tot teen die dak opgebou word. Hy sal minstens die hele November nog besig wees.
Die plan is om later 'n skaalmodel uit klip van die tolhuis te kap sodat blindes dit kan "voel".
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het net lof gehad vir instansies, sakeondernemings en mense in George wat bereid is om te help.
Volgens haar sal sekuriteit by die tolhuis aandag kry.
Joost Pyck en Joulian Roelfse binne die tolhuis.
Die tolhuis het ook weer 'n watertenk nadat die vorige een onlangs voete gekry het.
In hierdie stadium benodig die tolhuis 'n kragopwekker vir gebruik op die perseel. Een van die groot uitdagings is finansies.
Stols het gesê hopelik sal die herstelwerk aan die tolhuis klaar wees teen middel Desember.
Kyk 'n video hieronder
Die laaste keer dat besoekers fisies die tolhuis kon besoek, was op 27 Oktober verlede jaar.
Geleenthede word gereeld by die tolhuis gehou waartydens koffie en pannekoek verkoop word om geld in te samel vir die herstelwerk.
'n Klipkapper en kenner, Joost Pyck van Stellenbosch en Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis in die tolhuis waar herstelwerk volstoom aan die gang is. Foto: Eugene Gunning
Lees vorige artikels hier:
- Herstelwerk aan ou Tolhuis vorder
- Herstelwerk aan tolhuis begin
- Herstel werk op tolhuis begin
- Tolhuis word herstel
- Tolhuis kry groen lig
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'