Update
GEORGE NUUS - Stadig maar seker is die geskiedkundige ou tolhuis in die Montagupas weer besig om tot sy eertydse glorie herstel te word. Die jongste toevoeging is 'n rietbedekking aan die binnekant van die dak.
Die tolhuis, wat meer as 170 jaar oud is, en een van George se mees historiese geboue, is erg beskadig tydens die brande in Oktober verlede jaar.
Nadat werk aan die nuwe dak onlangs voltooi is, is begin met die aanbring van die rietbedekking aan die binnekant. Die herstelwerk aan die klipwerk gaan intussen voort onder leiding van 'n klipkapper en kenner, Joost Pyck van Stellenbosch. Hy word bygestaan deur Joulian Roelfse.
Tydens die George Herald, susterskoerant van die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die tolhuis was Pyck en Roelfse druk besig. Hulle is in 'n wedloop teen tyd gewikkel, want daar word gehoop om die herstelwerk betyds te voltooi vir die vakansietydperk. Dit sal beteken dat besoekers die herstelde tolhuis kan besoek.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het gesê die herstelwerk is op koers. "Ons is baie dankbaar dat die dak op is. As dit nie was vir mense wat die kappe geskenk het nie, sou daar nie 'n dak gewees het nie."
Gerda Stols, (links) voorsitter van die Vriende van die Tolhuis en Joost Pyck, 'n klipkapper en kenner van Stellenbosch, kyk na die nuwe kaggel.
Sy het benadruk dat dit 'n gemeenskapsprojek is en sonder die hulp en steun van privaat maatskappye, instansies en individue sou die tolhuis nie herstel kon word nie.
Volgens haar is die huidige herstelwerk baie meer arbeidsintensief as die vorige herstelwerk. Die klipwerk aan die binnekant is beskadig en daar is reeds weke se herstelwerk al agter die rug. In 'n stadium het die klippe wat gebruik is, opgeraak. Nog klippe moes aangery word. Om 'n klip te kry, is nie so maklik nie, het sy gesê. "Jy tel dit nie net op nie, en dit word met groot moeite aangery."
Die jongste toevoeging tot die tolhuis -'n rietbedekking aan die binnekant van die dak.
Die volgende stap is die installering van vensterrame, deure, die vloer en die geute. Die geute is belangrik. Die water is 'n krisis want elke keer kos dit geld om die 5 000 liter watertenk vol te maak. 'n Nuwe tenk gaan ook aangebring word nadat die vorige een voete gekry het. Dit sal omhein word om dit te beveilig.
Stols het gesê hopelik sal die herstelwerk voltooi wees in die eerste week van Desember. Die amptelike opening van die herstelde tolhuis word beplan vir vroeg in Desember. "Daar gaan groot fees gevier word."
'n Kersfeeskonsert word ook beplan vir so na as moontlik aan Kersfees.
"Voor die einde van die jaar gaan daar nog groot goed gebeur by die tolhuis," het sy gesê.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis voor die tolhuis in die Montagupas. Foto's: Eugene Gunning
Lees vorige artikels hier:
- Tolhuis spog met splinternuwe dak
- Herstelwerk aan ou Tolhuis vorder
- Herstelwerk aan tolhuis begin
- Herstel werk op tolhuis begin
- Tolhuis word herstel
- Tolhuis kry groen lig
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'