GEORGE NUUS - 'n Go George-bus is Sondagoggend, 23 April, omstreeks 05:00 deur misdadi-gers in Borcherds geteiken toe die minibus met klippe gegooi is.
Niemand is beseer nie, maar een van die glaspanele van die bus se deur is gebreek. Die diens is opgeskort en het weer om 07:00 hervat.
Die George-munisipaliteit sê voorvalle van vandalisme is nie onbekend aan die busdiens nie, veral in Borcherds. Die tendens is tans kommerwekkend met vier voorvalle die afgelope paar weke.
Volgens Morné Lakay, waarnemende bestuurder van Go George, vra hulle gereeld dat die publiek sulke dade moet aanmeld sodat oortreders aan die pen kan ry.
"Ons is in die eerste plek besorg oor ons passasiers en drywers se veiligheid en sal, soos gisteroggend (Sondag), die diens tydelik moet opskort in areas waar die klipgooiery plaasvind.
"Dit is tot die hele gemeenskap se voor-deel om hierdie optrede stop te sit. Nie net het dit duur herstelwerk tot gevolg nie, maar dit verontrief ons passasiers wanneer beskadigde busse uit sirkulasie geneem moet word vir herstelwerk en daar minder busse beskikbaar is om by die skedule te hou."
Die George-munisipaliteit bied 'n beloning van R2 500 aan vir inligting wat kan lei tot die skuldigbevinding van vandale.
Bel die inbelsentrum by 0800 044 044 met inligting. Die voorval is by die polisie aangemeld. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’