Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - St Mary's Primêr het op Dinsdagaand, 6 Desember, hul jaarlikse Kerskonsert gehou.
Die skool se koor, ensemble en blaasorkes het vir hulle ouers en die gemeenskap gewys wat hulle geleer het sedert die stigting van die skool se Musiekakademie ongeveer ses maande gelede.
Die saal was vol en die afwagting groot. Niemand is teleurgestel nie.
Dit was 'n genotvolle aand en 'n reusesukses.
Die kinders het verstom met die vlak van vaardigheid wat hulle in 'n baie kort tydjie ontwikkel het onder leiding van die akademie se bekwame hoof, komponis en musiekverwerker Karl Ackerman en Patrick Booysen, 'n gr. 5- en gr. 7-onderwyser.
Die koor is ses maande gelede op die been gebring en die blaasorkes slegs twee maande gelede, maar danksy personeel wat ewe passievol en meelewend is as die kinders, het hulle met rasse skrede gevorder en was dit 'n plesier om die aand mee te maak.
Gr. 5- en gr. 7-onderwyser Patrick Booysen dirigeer.
Met die natuurlike aanvoeling onder hierdie leerders gekoppel aan die dissipline van musiek wat by hulle neergelê word, kan baie hoë verwagtinge van hulle gekoester word.
Die onderwysers wat deel van die program was se musikaliteit het ewe veel beïndruk. Die skoolhoof, Laurentius Muller, leer nou saksofoon speel.
Frank Sinatra se I did it my way wat hy saam met Ackerman (saksofoon), onderhoof Denzel Alkaster (sang) en gr. 5-hoof Dwain Samuels (klavier) uitgevoer het, was 'n gepaste noot om sy aftrede in te gaan wat met die einde van die skooljaar begin.
VIDEO: Musiektalent blom by St Marys primêr
Onderhoof Denzel Alkaster se stem was 'n verrassing vir almal wat nie geweet het van sy sangtalent nie.
Booysen, wat 'n onbeskryflike passie vir musiek het, het met die begin van die Musiekakademie spesiale opleiding in Kaapstad ondergaan om hand by te sit met die musikale afrigting en as lid van die blaasorkes leer hy nou ook om die tuba (in die blaasorkes) te bespeel.
Muller het gesê daar het harde werk ingegaan om vir die konsert voor te berei, maar dit is met vreugde gedoen ten spyte van terugslae en uitdagings.
"Daar's 'n lied in my hart. Hierdie is 'n bewys dat drome waar kan word, maar jy moet hard daaraan werk."
Dr. Myrna Araneta (sittend voor), gaskoreograaf, het ook viool gespeel saam met die koor en blaasorkes. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'