Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Die kenmerkende klank van Harley Davidsons en ander motorfietse het Saterdag 6 November vir groot opwinding by Tuiniqua-versorgingsentrum gesorg. Sowat 35 motorfietse, het die sentrum besoek as deel van 'n minibasaar vir inwoners.
Verskillende klubs van die SWD Biking Association was daarby betrokke. Die Steelwings Garden Route Harley Davidson-klub het die uitreik gereël.
Die groep motorfietsryers het die terrein kort voor 11:00 binnegery. Luide applous het losgebars en die bejaarde inwoners het breed geglimlag. Steelwings Garden Route het 'n bedrag van R2 500 oorhandig en Coded, nog 'n motorfietsklub, het R500 oorhandig. Individuele donasies is ook gemaak en van die lede het ook toiletware aan die sentrum oorhandig.
Van die klublede het ritte op hul ysterperde aan van die bejaarde inwoners op die terrein gegee. Dit het vir groot vreugde gesorg. Klublede moes behoorlik bontstaan want verskeie van die bejaardes wou op ritte gaan. Ander wou net voel hoe dit is om op sulke kragte motorfietse te sit.
Roelof Baker, president van die Steelwings, het gesê hulle het die uitreik gereël om hul liefde en steun vir bejaardes te wys.
Bejaardes is baie belangrik in die samelewing. Net om 'n glimlag op die bejaardes se gesigte te sien was wonderlik, het hy gesê.
Karen Baker, wat by die reëlings betrokke was, het gesê dit was 'n belewenis om die bejaardes se vreugde te sien. Dit was 'n klein opoffering wat groot vreugde gebring het.
Volgens Hayley Bianchina, wat verantwoordelik is vir bemarking en kommunikasie by Tuiniqua, was dit 'n wonderlike geleentheid.
Ninke Stanley, maatskaplike werker van Tuiniqua, het gesê dit was 'n heerlike dag wat gehelp het om gemoedere te lig in hierdie moeilike tye, "Ons is baie dankbaar dat hulle (motorfietsryers) gekom het."
Van die motorfietse voor Tuiniqua se hoofgebou.
Die motorfietse het vir groot opwinding onder die bejaarde inwoners van Tuiniqua gesorg
Die motorfietse het vir groot opwinding gesorg onder die bejaarde inwoners van Tuiniqua.
Die motorfietse het vir groot opwinding gesorg onder die bejaarde inwoners van Tuiniqua. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'