Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Inwoners van die Rosemoor-tehuis vir bejaardes het op Donderdag 7 Oktober besoek gehad van lede van Wing Riders SA, 'n klub vir Gold Wing-motorfietsentoesiaste.
Motorfietsryers van so ver as Gauteng, Namibië, Swaziland en Kaapstad wat tans die Wing Fling-byeenkoms in Knysna bywoon, het spesiaal George toe gery om 'n donasie van kruideniersware te maak.
Dit vorm deel van hul program gedurende die week wat hulle in Knysna byeenkom.
Hulle het JJ Watson-tehuis vir bejaardes ook besoek.
Charmaine Titus, Rosemoor-tehuis se bestuurder, het gesê die gebaar beteken baie vir die inwoners. "Die uitreik maak ons harte warm. Ons beleef tans moeilike tye met baie uitdagings en sulke gebare word baie waardeer."
Sy het gesê die inwoners van die tehuis is steeds deel van die gemeenskap en moenie in isolasie lewe nie. Hulle verwelkom belangstellendes wat besoek bring en na die bejaardes uitreik, soos deur die Covid-inperking toegelaat.
Motorfietsryers Zenda en Dirk Els van Pretoria is onder die lede van Wing Riders SA wat bejaardes in George besoek het. Delores Wewers, wat deesdae betrokke is by die Rosemoor-tehuis vir bejaardes is met 'n rit saam met Zenda bederf.
Delores Wewers, afgetrede senior bestuurder van Sassa in die Suid-Kaap en voorheen van die welsynsdepartement, is deesdae nou betrokke by die tehuis. Sy het gesê hulle doelwit is om hul netwerk in die gemeenskap uit te brei en verhoudings te bou en versterk, omdat hulle ondersteuning van buite baie nodig het.
Motorfietsbesoek vir bejaardes:
Die tehuis huisves tans 91 bejaardes, 'n bietjie minder as die volle kapasiteit van 98.
Johan Mundey, voorsitter van die inwonerskomitee, het namens die inwoners waardering uitgespreek vir die bestuurspan en personeel se toewyding en entoesiasme.
Die hoof van die Rosemoor-tehuis vir bejaardes, Charmaine Titus, by twee ryers van Wing Riders SA, Chris en Sandy Vermeulen van Melkbosstrand.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'