GEORGE NUUS - Gebruik die woord "nooit" spaarsamig, is iets wat ek nie altyd getrou volg nie. In die dae, waar ek soos baie ander terugkyk na 'n jaar van inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie, het dit weer by my kom spook.
Toe die eerste inperking op 27 Maart 2020 inwerking getree het, was daar baie streng regulasies, maar dit is later aangepas. Tot voor dit, was baie dinge vir my "nooit" - dit sou nie gebeur nie. As ek eendag die tye van die afgelope jaar moes beskryf, sou die opskrif wees, 'n Tyd toe...
Dit was en is, voorwaar interessante tye.
'n Tyd toe...
'n Tyd toe mense om hul huise gehardloop het vir oefening.
'n Tyd toe mense skaars hul voertuie gebruik het.
'n Tyd toe lughawens grotendeels gesluit was.
'n Tyd toe mense saans na 'n sekere tyd nie meer op straat mag gewees het nie.
'n Tyd toe dit beter was as die uitslag van 'n toets negatief was as positief.
'n Tyd toe dit goed was om nie iemand met 'n handdruk te groet nie.
'n Tyd toe mense se hande gewas is as hulle winkels binnegegaan het.
'n Tyd toe 'n uitstappie na die winkels 'n sosiale hoogtepunt was.
'n Tyd toe jy in die openbaar nie sonder 'n gesigmasker mag verskyn het en 'n winkel binnegegaan het nie.
'n Tyd toe mense nie speelgoed vir hul kinders kon koop nie.
'n Tyd toe mense wat rook, nie sigarette kon koop nie.
'n Tyd toe drankwinkels gesluit was.
'n Tyd toe jy nie by jou gunsteling eetplek saam met vriende kon kuier nie.
'n Tyd toe werkers gevra is om eerder van die huis af te werk.
'n Tyd toe mense voor die televisie saamgedrom het as pres. Cyril Ramaphosa praat.
'n Tyd toe kerkgeboue Sondae leeg was.
'n Tyd toe sportstadions grotendeels leeg was.
'n Tyd toe dit nie regtig saakgemaak het watter dag van die week dit was nie.
'n Tyd toe mense wat tegnologies bedrewe was 'n reuse-voorsprong gehad het.
'n Tyd toe mense opnuut die belangrikheid van familie en vriende besef het.
'n Tyd toe mense nog gewys het hulle gee nog werklik om vir ander mense en diere.
'n Tyd toe mense nie op die strand mag gekom het en hul toontjies in die heerlike seewater kon druk nie.
'n Tyd toe baie mense begin hengel het net om by die see te kon wees.
Moet nooit sê nooit nie. Dit kan wel gebeur. Daar was en is sulke tye.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'