GEORGE NUUS - Austin Lee (21) die plaaslike modeontwerper wat sorg dat sy kliënte elegant geklee is vir elke spoggerige geleentheid, het onlangs nuwe blootstelling gekry toe sy modereeks in Port Elizabeth op die loopplank verskyn het.
Lee sê sy reeks, 'luxe exotique' wat Frans is vir eksotiese styl, is tydens die openingsaand van die 2017 Nelson Mandelabaai Modeweek (NMBFW) op 12 Oktober op die loopplank vertoon.
"Ek was die aand die laaste ontwerper. Enkele minute voor my eerste uitrusting die loopplank tref het Laduma Ngxokolo, meesterbrein agter die handelsmerk MaXhosa, sy verskyning in die voorste ry gemaak.
"Dit was 'n reuse-eer om my reeks in die teenwoordigheid van my rolmodel bekend te stel. Die hoogtepunt van die aand was vir my toe Laduma na afloop van die vertoning, aan my gesê het dat hy baie beïndruk was met my reeks en dat ek ''n blink toekoms' in die modebedryf het."
Lee bedank diegene wat sy reis na die NMBFW moontlik gemaak het. Hy is dankbaar vir die finansiële ondersteuning en selfs die gebede van familie en vriende.
Alhoewel Lee nie vanjaar as wenner van die NMBFW bekroon is nie, het hy steeds 'n vuurwarm passie om eendag diep spore in die industrie agter te laat.
"Ek is reeds hard besig om te werk aan my volgende reeks. Van hier af is dit net voorwaarts en opwaarts. Ek het ongelooflik baie gegroei in die aanloop tot NMBFW en my brein is oorlaai met nuwe idees."
Lee beoog om 'n Wendy-huis op sy erf op te rig. "Ek wil graag my besigheid binne die volgende paar maande uitbrei en begin om werk te skep."
Vir meer oor Lee se uitrustings of as jy self een wil bekom, skakel hom gerus by 061 304 1001, of besoek sy Facebookblad, Austin's Creations.
Lees 'n verwante artikel: Op pad na gesogte modevertoning
ARTIKEL: BRUMILDA SWARTBOOI
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'