GEORGE NUUS - 'n Kapingspoging helder oordag in die middedorp het Dinsdag 23 Augustus groot reaksie ontlont op die plaaslike Facebook-blad, Georgiete Staan Saam (GSS).
Dit volg na 'n jong motoris omstreeks 16:00 byna by die verkeerslig op die hoek van Tweedestraat en Knysnaweg gekaap is toe 'n verdagte man binne sekondes al die deure van die voertuig probeer oopmaak het.
Volgens die slagoffer se ma het haar dogter by die rooi verkeerslig gestop toe 'n man na haar voertuig stap en die regteragterdeur probeer oopmaak.
Toe hy besef dat die deur gesluit was, het hy probeer om die kattebak oop te maak en daarna die passasiersdeur en die linkeragterdeur. Al haar deure was egter gesluit en die poging het misluk.
"Intussen was daar 'n klomp ander mans wat aan die linkerkant op die hoek gestaan en kyk het om te kom as die kar oop sou wees. Als het so vinnig gebeur. Toe stop 'n kar langs haar in die ander baan en die verkeerslig slaan groen en sy kon ry," vertel die ma.
Die voorval is daarna by die polisie aangemeld.
Die traumatiese gebeurtenis is op die GSS-blad geplaas en talle lesers het hul misnoeë uitgespreek. Sommige kommentare dui ook daarop dat sulke voorvalle toeneem in George en motoriste meer paraat moet wees oor wat in hul omgewing aangaan.
Die plasing wat na die voorval op Georgiete Staan Saam gemaak is.
Wenke vir motorveiligheid
- Wees altyd bewus van wat in jou omgewing aangaan.
- Sluit altyd jou voertuig se deure en hou die vensters toe.
- As 'n vreemdeling met jou wil praat terwyl jy in jou voertuig is, moenie die venster wyd oopmaak nie - 5 cm is genoeg om 'n gesprek te voer.
- Indien moontlik, wissel die roete wat jy werk toe en terug gebruik.
- As jy deur 'n vreemdeling genader word terwyl jy in jou motor is, ry indien moontlik of druk jou toeter om aandag te trek.
- As jy 'n verkeerslig nader en dis rooi, ry stadiger sodat jou voertuig nie stop nie, en jy dadelik kan wegtrek as dit groen oorslaan.
- Hou pepersproei in jou voertuig.
- Moenie waardevolle besittings oop en bloot laat rondlê nie. Versteek dit in jou kar.
- Haal jou foon uit jou handsak wanneer jy bestuur sodat jy kan bel vir hulp indien nodig.
- Hou altyd 'n karlengte spasie tussen jou en die motor voor jou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'