GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse department van sosiale ontwikkeling ondersoek tans bewerings dat 'n maatskaplike werker homself daaraan skuldig gemaak het om vergoeding in die vorm van geld te vra om 'n kliënt te help.
Shireen Mohamed van Uniondale sê sy het die maatskaplike werker, werksaam by die George-kantoor, gekontak om haar te help om haar ma, wat bedlêend is, in 'n tehuis te plaas. Hy moes glo net die dokumentasie Kaap toe faks, maar wou glo eers R500 hê om iets persoonlik te doen.
"Hy het gevra ek moet hom R500 gee sodat hy sy selfoon by die winkel kan gaan haal."
Mohamed sê sy was geskok omdat sy skaars geld gehad het om George toe te ry, omdat die man blykbaar nie eers na haar huis toe wou kom om die dokumentasie te bring nie. "Ek moes verhuis en het my werk opgee om na my ma te kom omsien. So ek het nie geld gehad om te leen nie."
Sy vertel sy het die dokumente by hom gelos en is weer terug huis toe. Na bewering kon sy hom daarna nie in die hande kry nie. Mohamed het vertel dat sy na die kantoor gebel het, dan het 'n dame gesê hy is daar, maar hy antwoord nie sy telefoon nie.
Sy het bewyse van die talle telefoonoproepe wat sy gemaak het. Sy en haar broer het intussen besluit om terug Kaap toe te verhuis waar hulle na hul ma gaan omsien tot hulle 'n geskikte tehuis vir haar kry.
Esther Lewis, woordvoerder van die departement, sê die aantygings word in 'n ernstige lig beskou en word deur die departement ondersoek. Sy het ook bevestig dat die man wel by die George-kantoor werksaam is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'