GEORGE NUUS - Riejhaat Wolhuter (14) van George Hoërskool moet op 5 Julie na Suid-Korea vertrek vir ’n weeklange internasionale jeugkamp in rolprentvervaardiging, maar benodig dringend R20 000 om die kamp te kan meemaak.
Hy is een van drie leerders in die Wes-Kaap wat gekies is om die jeugkamp by te woon.
Volgens sy kuns-onderwyser, mnr. Kevin van Niekerk, het hulle ‘n paar donasies ontvang, maar is hulle nog ver van die R20 000-merk.
Reijhaat se vaardigheid en entoesiasme was duidelik toe hy verlede jaar verskeie kursusse wat deur SUFF (Southern Youth Film Festival) gereël is, bygewoon het.
Die feesbestuurder, Jerome Booysen, het gesê Riejhaat het ‘n fyn aanvoeling vir dié kunsvorm.
’n Span van Noorweë het ook van die werkswinkelsessies aangebied. Tydens die kursusse is daar nie net op verfilming gekonsentreer nie, maar op die hele proses wat daarmee skakel, onder andere die skryf van tekste en redigering.
SUFF is in 2009 bekendgestel in samewerking met die wêreldwye NUFF (Nordic Youth Film Festival). ‘n Reeks werkswinkels in film word aangebied, waarna deelnemers opleiding ontvang om hul eie kort films te maak. Elke jaar gedurende Desember word plaaslike en internasionale ta-lent tydens die SUFF be-kendgestel.
Vir navrae of donasies skakel George Hoërskool of Kevin van Niekerk by 044 871 1194.