GEORGE NUUS - Die lappieskomberse wat vir die lappieskruis aan die voorkant van die NG Moedergemeente in Courtenaystraat gebruik is, gaan vir liefdadigheid versprei word.
Dit het sedert Vrydag 1 Desember aan die voorkant van die NG Moedergemeente in Courtenaystraat gestaan, maar is Maandag 11 Desember afgehaal.
Tussen 2 500 en 2 800 lappies is sedert Maart gebrei en gehekel om die 9 m hoë kruis te bedek. Die lappies is deel van die ACVV George se Terug na die Kruis-projek.
Inwoners van Huis Harmonie het daaraan gebrei en gehekel. Mense van Robertson en Hartenbos het ook gehelp.
Nadat dit Vrydagaand, 1 Desember, tydens ‘n Kerssangdiens amptelik bekendgestel is, het dit baie aandag getrek.
Liezel Muller van die ACVV George het gesê die komberse sal nou gewas word en daarna versprei word. "Ons het fenomenale terugvoering ontvang. Die terugvoering was baie positief."
Volgens haar was daar baie mense wat wou gehad het dit moes nog opbly, maar ongelukkig moes dit afgehaal word.
Vrywilligers besig met finale afrondings. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’