Video
GEORGE NUUS EN VIDEOS - John Gerber, 'n oudmeterleser van George-munisipaliteit maan inwoners om self deeglik rekord van hul water en elektrisiteitsverbruik te hou.
Gerber het donkiejare gelede van huis tot huis geloop het om dié einste takie te verrig, vermoed dat verbruikers in George deesdae benadeel word deur verkeerde lesings wat deur die meterlesers geneem word.
Gerber het einde verlede jaar 'n brief aan die George-munisipaliteit geskryf waarin hy oor die kopseer kla, en vra om sy klagtes te ondersoek en sy rekening te oudit.
"Ek is op moedverloor se vlakte en weet nie wat ek nog kan doen om die George-munisipaliteit te motiveer om my rekening korrek te bereken nie," skryf Gerber.
Hy verduidelik breedvoerig in 'n brief aan die George Herald (sien die brieweblad, bl.25) hoe "fiktiewe of onrealistiese" lesings ingevoer word, terwyl hy self sy eie lesings getrou inhandig.
Gerber is van mening dat sy probleme begin het toe 'n nuwe span meterlesers aangestel is.
"Ek is sedert 19 Augustus 2015 reeds sewe keer vir twee maande se verbruik in plaas van een maand gedebiteer," het hy geskryf.
Hy noem ook verder dat dit voorkom of die tweemaandstelsel oornag na 'n eenmaandstelsel verander word, wat minderbevoorregte verbruikers benadeel.
Direkteur van finansies, Keith Jordaan, het bevestig IKapa Reticulation and Flo is vir die lees van water- en elektrisiteitsmeters verantwoordelik.
Gerber vra dat sy rekening geoudit word, nadat hy verskeie teenstrydighede opgemerk het.
"Daar word tans sowat 38 500 meters per maand gelees en in gevalle waar probleme opduik word dit so spoedig moontlik opgelos," het Jordaan gesê.
"Meters word soms geskat wanneer die meterlesers nie toegang tot die perseel kan kry nie.
"In gevalle waar skattings in 'n spesifieke maand te hoog of te laag was, word die verbruik die daaropvolgende maand reggestel.
"Dit is altyd 'n goeie idee om self ook rekord te hou van water en elektrisiteitsverbruik – sodoende kan foute lekker vinniger opgetel word en bly mense meer bewus van hulle water- en elektrisiteitsverbruik, wat ook tot besparings kan lei."
Kyk video's hieronder:
Volgens Jordaan kan waterlekkasies of foutiewe meters ook 'n rekening ongewoon verhoog. "In so 'n geval sal die rekening volgens raadsbeleid na drie maande se monitering nadat dit reggemaak is, ooreenkomstig aangepas word".
Vir navrae kontak Ikapa direk by 063 742 1375 of by george@ikaparetic.co.za. Vind IKapa by 43 Markstraat.
Lees George-munisipaliteit se volledige kommentaar in antwoord op John Gerber se brief op ons webblad.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'