GEORGE NUUS - George-munisipaliteit probeer keer dat bome in Yorkstraat en Knysnaweg versmoor weens teer of plaveisel wat bo-op hul wortelstelsels lê.
Volgens die munisipale kommunikasiehoof, Chantel Edwards-Klose, word daar tans aandag geskenk aan padreserwes wat 'n bedreiging vir die voortbestaan van bome inhou. "Kontrakteurs knap nie alleen ons padreserwes op nie, maar probeer ook die versmoring van sommige van die bome inperk."
Edwards-Klose het gereageer op 'n klagte van Gloria van Vorstenbosch, 'n gereelde voetganger in Yorkstraat, wat bekommerd is oor die toestand van George se bome. Van Vorstenbosch meen sommige bome verkeer onder stres omdat water nie behoorlik by hul wortels uitkom nie. Dit maak hulle meer vatbaar vir onder meer besmetting deur die stompkopkewer wat reeds in George skade aangerig het, sê sy. Lees die nuutste oor die kewer op bladsy 18.
"Hierdie bome staan al so lank so. Ek het by die munisipaliteit gekla, maar hulle het niks gedoen nie. Ek dink hulle moet hulle prioriteite regkry en moes al lankal hieraan aandag geskenk het. Op sommige plekke word 'n hoop gruis bo-op onkruidwerende lap rondom die bome geplaas, maar dit is nie veel beter vir die bome nie. Die water moet deur die gruis en dan nog deur die membraan syfer na die wortels toe."
Edwards-Klose sê in die meeste gevalle word randstene of teer nie doelbewus teen die stamme van bome geplaas nie, maar die bome groei en sodoende word meer ruimte om die boomstam ingeneem. "Weens begrotingsredes kan al hierdie en soortgelyke probleme nie tegelykertyd aangespreek word nie en sekere gedeeltes moet geïdentifiseer en eers geprioritiseer word."
Die direktoraat siviele ingenieursdienste is in noue verbintenis met die parke- en rekreasieafdeling, en werk saam om die beskerming en voortbestaan van die stad se bome te probeer verseker.
"Kontrakteurs en interne werkspanne word voortdurend gemaan om bome versigtig te hanteer wanneer daar pad- of onderhoudswerk in die omgewing van bome plaasvind. Die beskerming en bewaring van bome is vir die siviele afdeling van uiterste belang. Hulle het 'n verantwoordelikheid teenoor die natuur en veral die bome wat ook die dorp se estetiese voorkoms komplementeer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'