GEORGE NUUS - Juwayne Domingo (9) was nie vanjaar op Moedersdag daar om sy ma te bederf nie.
Trouens, die seuntjie met die skaam glimlag, sal nooit weer daar wees vir 'n Moedersdag, sy verjaarsdag of Kersfees nie.
In stede daarvan, is sy ma en haar kêrel die dag voor Moedersdag vir sy uiters gewelddadige moord aangekeer.
Chanelle Domingo (31) en Ray Morgan Cronjé (32), is op Saterdag 13 Mei in hegtenis geneem ná die seun glo met 'n sambok en 'n staalpyp doodgeslaan is. Hy is na bewering ook verskeie kere hard neergegooi.
Die polisie het die twee in hegtenis geneem nadat hulle na die toneel in Jakarandastraat in Pacaltsdorp uitgeroep is.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, sê Juwayne was reeds in 'n ambulans toe die polisie op die toneel aankom.
"Hy het veelvuldige kneusplekke oor sy lyf, kop en bene gehad. Paramedici het die seun op die toneel dood verklaar. Die verdagtes is later op aanklag van moord in hegtenis geneem," het Spies gesê.
Hulle het Dinsdag 16 Mei in die George-landdroshof verskyn waar die saak tot 9 Junie vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel is. Beide bly in aanhouding.
Gemeenskap teen borgtog
Volgens Pacaltsdorp-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) se voorsitter, Charly Daman, is die gemeenskap in skok, hartseer en woede gehul en hulle beplan 'n plakkaatbetoging teen die verdagtes se vrylating op borgtog.
"Die gemeenskap wil ook 'n petisie teen moontlike borgtog saamstel. Die GPF staan saam met hulle. Dit is die laaste keer dat 'n kind of 'n senior burger in Pacaltsdorp vermoor word. Basta met dié borgtog," het Daman gesê.
Gerugte doen die ronde dat dit nie die eerste keer is dat die verdagte die kind sou slaan nie, maar geen sake is ooit by die polisie aangemeld nie.
Dit is glo een van die redes hoekom Juwayne soms by sy ouma aan moederskant in New Dawn Park gebly het. Hy was dae voor sy dood ook by sy ouma.
Sy ma het hom Saterdag daar gaan haal en saam met haar na Cronjé se huis geneem. Volgens inligting het hy en sy ma sowat drie maande gelede by Cronjé ingetrek.
Hy was lief vir teken
Juwayne was 'n gr. 2-leerder by New Dawn Park Primêr in Pacaltsdorp. Volgens sy klasjuffrou, Sharoné Opperman, was hy baie lief vir teken. "Hy was baie goed daarin. Ek moes hom soms herinner dat ons eers met ander werk moet aangaan, want hy was altyd besig om te teken. Hy was ook lief vir grappe en het belangstelling in landloop getoon."
Sy sê Maandag was vir hulle as skool en as klas 'n moeilike dag. "Almal was emosioneel met die nuus van Juwayne se afsterwe en sy klasmaats gaan hom baie mis. Almal het briefies en prentjies geteken, en ons gaan dit aan sy familie gee."
Herman Philander, die voorsitter van die skool se beheerliggaam, het namens die beheerliggaam en skool hul meegevoel aan Juwayne se familie uitgespreek en die voorval ten sterkste veroordeel.
"Ek is diep ongelukkig en hartseer oor die voorval en die verlies van die jong kind se lewe op so manier. Ons moet voorkomend begin optree en nie wag tot so iets op ons voorstoep gebeur nie. Ons moet nie ons kinders faal deur ons stilswye nie," het Philander gesê.
'n Familievriend, Mary-Ann Wonderlik, wat ook na sy ouma omsien wat aan 'n kroniese siektetoestand ly, beskryf Juwayne as 'n liefdevolle kind. "Hy was 'n pragtige seun, jy kon hom altyd stuur vir takies en hy het nooit gekla nie. Hy was 'n kind van Klokkie-blomstraat," sê sy.
Juwayne word op Saterdag 27 Mei uit sy ouma se woning in Klokkie-blomstraat in New Dawn Park begrawe met 'n kerkdiens daarna in die VGK Pacaltsdorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’