Die IFCM 8ste Wêreld Koorspele, vind vanjaar in Riga, Latvië plaas, waar 472 top kore uit 52 deelnemende lande teen mekaar sal kompeteer vir die toekenning van die beste koor ter wêreld. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Suid-Kaap dat koorlede uit plaaslike skole aan hierdie glansryke kompetisie sal deelneem. Ander hoogaangeskrewe Suid-Afrikaanse kore wat gekeur is, is onder andere Stellenbosch Universiteitskoor, die Tygerberg Kinderkoor en die Potchefstroom Universiteitskoor.
Die SKKK, wat tans een van Suid-Afrika se beste streekkinderkore is, en reeds vele gesogte toekennings, onder andere die ATKV Animato 2010 en die 2013 KKNK Kannaprys vir beste musikale produksie by die KKNK ingepalm het, sal tydens hul toer konserte in katedrale en konsertsale in Duitsland en België aanbied ter voorbereiding tot die kompetisie, waar hulle in vyf kategorieë sal meeding: Kinderkore, Westerse Kerkmusiek, Negro Spirituals, Afrika-etniese musiek, asook 'n Vriendskaps kultuur-uitruil spogkonsert.
Die SKKK sal ook die Suid-Afrikaanse vlag by die opening van die Spele indra en aan 'n massakooruitvoering van 30 000 koorstemme met simfonieorkes-begeleiding in Riga deelneem.
Die sestig koorlede, wat tussen 9 en 16 jaar oud is, het reeds hul eerste oefenwerksessie agter die rug, en voer 'n repertorium van verskeie eg Suid-Afrikaanse en internasionale koorkomposisies van hoogstaande gehalte, uit.
Die SKKK toerkoor sal hul internasionale repertorium op Sondag 2 Maart om 15.30, by die George Kunsteteater, tydens 'n galakonsert aanbied. Kaartjies is by Computicket of by die kunsteteater teen R80 per persoon, of R40 per kind onder 12, beskikbaar. Skakel 084 645 9320 vir verdere inligting.

Die SKKK, is tans een van Suid-Afrika se beste streekkinderkore.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'