GEORGE NUUS - Die Outeniqua-jazzorkes het verlede week (27 Junie tot 2 Julie) aan die Nasionale Jeug Jazzfees in Makhanda (Grahamstown) deelgeneem.
Lynette Petersen, 'n musiekonderwyser by Hoërskool Outeniqua, sewe leerders van dié skool, sowel as een leerder van York High, het die lang pad na Makhanda aangedurf.
Die orkes het op Dinsdag 28 Junie die fees optrede-reeks afskop met Amerikaanse jazztreffers deur Miles Davis en Herbie Hancock, sowel as musiek van Abdullah Ibrahim.
Die Outeniqua-jazzorkes bestaan tans uit die volgende leerders van Hoërskool Outeniqua: Monicke van der Walt (18, tenoorsaksofoon), Nicklen Gelderbloem (17, kitaar), Logan Jantjies (16, klavier/baskitaar/dromme), Henco Bester (16, sang/trompet), Jean du Plessis (15, kitaar), Ryan Munro (15, dromme) en Marnu van Sandwyk (15, klavier). Die sewentienjarige Siba Sithembile, 'n trompetspeler van York High, is ook deel van die orkes.
Die fees
Die fees is een van die grootste van sy soort, met 'n hoofdoel om die ontwikkeling van jeug jazzmusikante op nasionale vlak te bevorder.
"Daar is daagliks werksessiess, meestersklasse en optredes deur plaaslike en internasionale musici aangebied waar deelnemers aangemoedig word om hulself te strek en die beste van die geleenthede te maak wat aangebied word," het Petersen gesê. "Ons bedank alle weldoeners wat bygedra het om ons feestoer moontlik te maak."
Een van die hoogtepunte was toe die Outeniqua-jazzorkes saam met Kerwin Albertus, tans 'n musiekstudent aan Universiteit Stellenbosch, opgetree het.
Die groep het Albertus se eerste komposisie, South Cape Sunrise, gespeel, wat hy op die ouderdom van 16 gekomponeer het, nadat hy die jeugfees in 2017 bygewoon het.
Geskiedenis
Die Outeniqua-jazzorkes is reeds in 2017 gestig toe 'n behoefte aan ensemble-speel deur een van die oudleerders, saksofoonspeler, Kerwin Albertus (21) identifiseer is.
Die nalatenskap van hierdie groep is steeds lewendig te dankie aan Petersen. Hierdie onnie is self 'n oud-Kwagga en het musiek aan Universiteit Stellenbosch studeer met 'n spesialisasie in klavier, sang en musiekopvoedkunde.
Sy het vir meer as 10 jaar in die US Sertifikaatprogram gewerk waar sy aan jazz blootgestel is. Haar verbintenis met die Nasionale Jeug Jazzfees lê haar baie na aan die hart, wat sy sedert 2005 bywoon.
"Ek glo dat musiekonderwysers 'n groot verantwoordelikheid het om ons gemeenskap op te voed en ons kinders bloot te stel aan musiekaktiwiteite wat nie vrylik in ons omgewing beskikbaar is nie. Sodoende word 'n gesonde musiekkultuur gekweek, want ons kweek 'n waarderende gehoor," het Petersen gesê.
"Die oogmerk van die jazzprogram by Hoërskool Outeniqua is om leerders van verskillende agtergronde aan mekaar voor te stel en hulle die geleentheid te bied om saam musiek te maak. Om hierdie rede het die orkes vir die afgelope vyf jaar 'n verbintenis met George High en York High."
Vorige leerders wat by hierdie samewerking betrokke was beoefen steeds musiek of studeer musiek aan die US onder leiding van die bekende jazzpianis, Ramon Alexander - ook 'n oud-Yorkie.
Die Outeniqua-jazzorkes is van links: Henco Bester, Siba Sithembile, Jean du Plessis, Monicke van der Walt, Nicklen Gelderbloem, Marnu van Sandwyk, Ryan Munro en Logan Jantjies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'