GEORGE NUUS - Solidariteit Helpende Hand hou op Maandag 29 Januarie 'n inligtingsessie waarheen Georgiete genooi word om meer uit te vind oor die organisasie en hoe hulle betrokke kan raak of bydra.
Die sal duur van 17:30 tot 18:30 en word gehou by die Akademia-kampus in Meadestraat (oorkant Texas Grill).
Marlise Labuschagné is die assistentstreeksorganiseerder in die George-area en kan inwoners na die naaste tak verwys.
"Ons het jou broodnodig en vra dat jy betrokke raak by 'n organisasie wat nie net kla en sit en wag dat dinge gebeur nie, maar wat moue oprol en help waar die nood die grootste is. Dis uiters vervullend om by Helpende Hand betrokke te wees en te kan sien hoe mense verander as jy begin omgee," sê Labuschagné.
Marilize de Vaal, streeksadministratiewe beampte vir die Wes-Kaap, sê baie mense het voornemens vir die nuwe jaar om 'n verskil in hul gemeenskap te maak en Helpende Hand kan hulle hiermee help.
"Die organisasie is gestasioneer in meer as 14 streke in nege provinsies en 200 vrywilligerstakke maak dit maklik om in te skakel en te help.
"Ons kan slegs 'n impak hê as lede van die publiek aanmeld en betrokke raak. Dalk het jy net 'n uur per week beskikbaar, dalk kan jy 'n finansiële bydrae van R50 per maand lewer.
"Maak nie saak hoe jy bydra nie, ons kan jou bydrae gebruik en vermeerder. Ons streke het die afgelope jaar projekte uitgerol om verskeie gemeenskapsbehoeftes aan te spreek."
Belangstellende Georgiete kan Marlise Labuschagné kontak by 071 390 7766 of stuur 'n e-pos na marlise@helpendehand.co.za om uit te vind hoe hulle kan inskakel.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’