GEORGE NUUS - 'n Plaaslike kontrakteur beweer haar besigheid en haar goeie naam ly skade weens 'n ondersoek teen 'n munisipale amptenaar, aan wie sy moes rapporteer.
Nellie Scheepers van NJ Construction kon oor die afgelope 16 maande nie daarin slaag om 'n munisipale tender te ontvang nie, en word sy boonop in haar eie woonbuurt deur inwoners van korrupsie beskuldig.
Scheepers se eerste kontrak by George-munisipaliteit, in 2009, was om papiere op te tel en die dorp se strate skoon te maak.
In 2010 het sy haar eerste drie-jaar tender by die departement siviele ingenieurswese gekry, vir die skoonmaak van die pompstasies oor die hele George-gebied, Uniondale en Hoekwil.
"So het die drie jaar geëindig en ek wou graag weer tender," het Scheepers gesê. 'n Voormalige bestuurder van siviele dienste, George Rowe, het haar blykbaar bemoedig en gesê sy kan gerus weer probeer, want "niks kan jou keer as jou prys reg is nie".
Scheepers het weer 'n drie jaar tender gekry en het die diens van 2013 tot 2016 gelewer. Sy is aangeraai om haar fakture onder R30 000 te hou en elke twee weke in te dien, wat sy blykbaar getrou gedoen het.
"My werk was altyd betyds, altyd netjies, daar was nooit probleme nie," het sy gesê. Die tender het nie aanvanklik die bou van mure om die pompstasies ingesluit nie, maar dit was later nodig geag om vandalisme te keer.
Scheepers het blykbaar die nodige toestemming ontvang en die werk is gedoen. Scheepers het bevestig sy het slegs die arbeid verskaf en nie die boumateriaal nie.
NJ Construction se kontrak met George-munisipaliteit het einde 2016 ten einde geloop. Scheepers het nog nooit weer 'n tender van die munisipaliteit gekry nie. Sy reken dit hou direk verband met die ondersoek teen die amptenaar wat negatief op haar reflekteer.
"Ek het eers nie veel daarvan gedink toe ek sukkel om 'n tender te kry nie, maar toe is ek verlede jaar (2017) gevra om my verhouding met die amptenaar, wat ondersoek word, te verduidelik," het Scheepers gesê.
Die George Herald het vroeër vanjaar berig oor 'n ondersoek teen 'n pompstasie superintendent, Sibonele Ninela. Hy is in Mei verlede jaar aangekla oor ernstige wangedrag. Hierdie saak word steeds ondersoek en die uitkoms daarvan is nog nie bekend nie.
Scheepers het gesê sy is die versekering gegee dat die ondersoek nie die kontrakteurs betrek nie, maar slegs die amptenare.
George se munisipale bestuurder, Trevor Botha, het by navraag geantwoord dat alle tenderprosesse volgens die George-munisipaliteit se voorsieningskanaalbestuursbeleid op dieselfde manier hanteer en evalueer word, ten opsigte van prys, funksionaliteit en BEE-status.
Lees 'n verwante arikel: Alles nie suiwer by siviel
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'