GEORGE NUUS - Die lang wag is verby: 'n vloot van Go George-busse sal op Sondagoggend 22 Maart lank voor sonop die busdepot verlaat vir hul eerste geskeduleerde ritte na Parkdene, Ballotsview, Conville, Borcherds en Lawaaikamp.
Dit kom 11 maande nadat die aanvanklike ontplooiing wat vir 28 April 2019 beplan is, drie dae voor die gebeurtenis deur politieke hoofde gekanselleer is.
Inwoners van hierdie gebiede was uiters teleurgesteld en ongelukkig en moes oortuig word om die beloftes hierdie keer te vertrou.
Maar die gemaal van aktiwiteit in hul omgewing soos wat die munisipaliteit die laaste bushaltes en -skuilings voltooi, die personeeldiensbeamptes wat hul huise van deur tot deur besoek en baniere wat opgerig word, het die opwinding en afwagting van die vorige poging laat herleef.
Bestuurders op roete-opleiding is die afgelope week deur entoesiastiese inwoners met ’n gewuif en gejuig begroet.
Bystand vir nuwe passasiers
Die passasiersdiensbeamptes sal van die heel eerste dag af by die bushaltes en op die busse wees om passasiers by te staan en vertroud te maak met die nuwe manier van reis op ’n geskeduleerde busdiens.
’n Inligtingskiosk is ook voor Parkdene Sekondêr opgerig en sal van 10:00 tot 18:00 op weeksdae, en 09:00 tot 13:00 op Saterdae beman word om nuwe passasiers met ritbeplanning en stelselinligting by te staan.
Die Go George Facebook-blad is 'n nuttige bron van die jongste nuus, inligting en handige wenke oor die gebruik van die busdiens. Alle roetekaarte en tydroosters is hier beskikbaar.
Skakel gerus die Go George-inbelsentrum is daagliks van 05:00 tot 21:30 operasioneel. Skakel hulle by 0800 044 044 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'