TUINROETE NUUS - "Die Tuinroete-distrikspolisie sal nie toelaat dat kriminele die streek oorneem nie."
So het die distrikskommissaris, genl. maj. Norman Modishana, verlede Woensdag tydens die eerste medaljeparade by die Polisie Akademin in Oudtshoorn gesê.
Altesaam 109 polisielede van die Suid-Kaap en Sentraal-Karoo het by die geleentheid medaljes ontvang vir jare lange getroue diens.
68 lede het medaljes vir 10 jaar diens ontvang, 17 vir twintig jaar en 24 vir dertig jaar.
Die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Memory Booysen, asook die stasiekommissarisse van George en Oudtshoorn, brig. Nolan Michaels en brig. Susan Crafford, was onder die eregaste wat die geleentheid bygewoon het.
Modishana het die ontvangers gelukgewens met hul prestasies oor die jare en klem gelê op die belangrikheid van die polisie se rol in die samelewing.
Hy het beklemtoon dat die polisie nie sonder die samewerking van gemeenskappe kan funk-sioneer nie en gewaarsku dat kriminele nie die streek sal oorneem nie.
Beamptes staan op aandag terwyl die medaljes oorhandig word. Foto: Garnett Wicomb
Van die beamptes wat medaljes ontvang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’