GEORGE NUUS - Ek het nie woorde nie. Nog nooit in die 30 jaar wat ek hier staan het so iets gebeur nie!
Só sê George se welbekende blomme-tannie, Suraya Cassiem, ná al haar blomme teen 11:00 op Moedersdag uitverkoop was.
Cassiem en haar blommestalletjie op die hoek van CJ Langenhoven- en Yorkstraat is 'n instelling in George en twee dae voor die nasionale grendeltydperk begin het, het sy en haar seun Ysuf al hulle blomme aan verbygangers uitgedeel.
Die blommeverkope is Cassiem se enigste bron van inkomste, en met die verslapping van die algehele inperking na vlak vier, kon sy die nodige permit bekom om weer handel te dryf.
Haar kleurvolle stalletjie, wat sekerlik telke mans in hul wederhelfdes se goeie boekies laat beland het, is sedert Vrydag 8 Mei weer in volle swang.
"Ek wil net ieder en elke persoon bedank vir hulle volgehoue ondersteuning. Verál in hierdie moeilike tyd. Die lockdown het gemaak dat ek met ander oë na my mensies kyk. Ek was nog altyd lief vir my kliënte, maar nou soveel te meer. Ek was Sondagoggend bekommerd dat mense nie gaan uitkom nie, maar die gemeenskap het uit alle oorde gekom en teen 11:00 was al my blomme uitverkoop. Nou kan ek weer my kas vol kos maak en nog blomme koop om aan te gaan. Ek kan nie genoeg dankie sê nie. Ek het nie woorde nie," het Cassiem gesê.
Suraya Cassiem blom weer by haar stalletjie in die middedorp. Foto: Deidre Cloete
IN SHORT - On Friday 8 May, just in time for Mother's Day, Suraya Cassiem reopened her flower stall on the corner of CJ Langenhoven and York Streets in the CBD. This comes after Cassiem and her son Yusuf, handed out all their flowers to passers-by two days before the national lockdown started in March. On Mother's Day, Sunday 10 May, Cassiem had a record day when all her flowers were sold out at 11:00. "I want to thank each and every one for their support during this difficult time. I thank you from the bottom of my heart. I have no words to thank you," she said.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'