GEORGE NUUS - Die dood van die geliefde afgetrede Afrikaans-opvoeder Jan Gallant op Woensdag 3 Junie, het ’n golf van hartseer deur oudleerders, kollegas en gemeenskapslede gestuur.
Huldeblyke stroom in vir die man wat deur baie beskryf word as meer as net ’n onderwyser - ’n mentor, vaderfiguur en gemeenskapsbouer wat oor dekades heen diep spore in mense se lewens getrap het.
Gallant se dood is deur Sumayyah Petersen, beter bekend as die, “Godmother van Afrikaans” op sosiale media aangekondig.
Kort daarna het voormalige leerders, alumni en kollegas hul herinneringe van die gewilde opvoeder gedeel.
Vir Ricardo Cupido, deel van die matriekklas van 2009, was die nuus ’n groot skok.
“Vanaf gr. 10 tot 12 het hy vir my Afrikaans gegee. Hy was ’n werklike staatmaker en het ons altyd behandel asof ons sy eie kinders was. Ons gaan hom geweldig mis en wens sy kinders krag van bo toe. Till we meet again, Mnr. G,” het Cupido gesê.
Morton van Rooyen, ’n voormalige skoolhoof van Hoërskool George, het Gallant beskryf as ’n ware gentleman wat respek afgedwing het sonder om dit ooit te eis.
“Hy was altyd beleefd teenoor sy kollegas en geliefd onder sy leerders. Hy het jongmense aangemoedig om in hulself te glo en hulle laat besef dat hulle tot meer in staat is as wat hulle self gedink het. Hy het ’n groot invloed in baie leerders se lewens gehad,” het die voormalige hoof gesê.
Van Rooyen sê hy sal Gallant se energieke persoonlikheid ook lank onthou. “Baie van ons sal sy danspassies tydens matriekafskeide onthou. My innige meegevoel aan sy geliefdes. Mag sy siel in vrede rus.”
Gallant se vrou, Berenice, sê haar man was ’n seun wat in Calvinia by sy ouma en oupa grootgeword het nadat hulle hom reeds op drie dae oud ingeneem het.
“Jan was ’n kind van die stofstrate van Calvinia, maar hy het nooit toegelaat dat sy omstandighede bepaal wie hy eendag sou word nie,” het sy gesê.
Van jongs af het Gallant uitgeblink. Hy het ’n swart gordel in karate verwerf en was ook ’n talentvolle atleet. Volgens sy vrou staan een van sy atletiekrekords in die Noord-Kaap steeds vandag.
Sy akademiese ambisies het hom later na die destydse Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geneem, waar hy in 1987 sy studies voortgesit het. Later het hy ook deeltyds vir sy honneursgraad aan die Noordwes-Universiteit ingeskryf.
“Jan het altyd drome gehad. Hy het nooit opgehou om homself te verbeter nie,” het sy gesê.
Tog is dit sy liefde vir kinders wat volgens haar die sterkste deel van sy nalatenskap bly. Sy vertel hoe een van haar dogter se vriendinne eendag verbaas was om uit te vind dat Gallant haar stiefpa is.
“Dis die meneer wat altyd vir ons kos by die snoepie gekoop het,” het die leerder glo gesê. Toe Berenice later vir haar man vra waarom die skool se snoepierekening soms so hoog was, het sy die antwoord gekry wat sy karakter die beste beskryf.
“Die kinders was honger. Hulle het na my toe gekom en ek kon hulle nie wegwys nie,” het hy haar vertel.
Volgens Berenice het die rekening wat hy vir behoeftige kinders betaal het soms honderde rande beloop. “Dit is die persoon wat Jan was,” het sy gesê.
“Ons kinders, die kinders van Hoërskool George en die gemeenskap het iemand besonders verloor. Ek het my lewensmaat van byna 15 jaar verloor.” Met emosie het sy haar man onthou as iemand wat haar daagliks laat voel het asof sy die belangrikste mens in sy wêreld was.
“Hy het altyd gesê ek is sy koningin. Hy het my behandel asof ek die enigste persoon in sy wêreld was.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’