GEORGE NUUS - Die behoefte aan behuisingsgeleenthede vir diegene wat te veel verdien om in aanmerking te kom vir 'n ten volle gesubsidieerde huis, is weereens bevestig met die ongelooflike hoeveelheid aansoeke wat tot dusver ontvang is vir sodanige Flisp-huise (Finance Linked Individual Subsidy) wat deel vorm van die Erf-325 behuisingsontwikkeling naby Rosedale.
'n Totaal van 520 aansoeke is vir die 147 Flisp-huise ontvang wat tans beskikbaar is in dié ontwikkelingsprojek.
Die goeie nuus is egter dat nog 'n sarsie Flisp-huise op 'n latere stadium by Erf-325 beskikbaar gestel sal word. Diegene met 'n inkomste van meer as R3 501 per maand, maar minder as R22 000 per maand, kan vir hierdie behuisingsgeleenthede aansoek doen.
Die Erf-325 projek (ook bekend as die Syferfonteinprojek) is in Augustus 2018 van stapel gestuur met 'n begroting van R434-miljoen. Die ontwikkeling sal uiteindelik behuising aan 2 114 gesinne vanuit verskillende inkomste kategorieë verskaf.
'n Deel van die terrein is gereserveer vir sosio-ekonomiese fasiliteite. Tot op hede is 972 huise voltooi, waaronder die 147 Flisp-huise.
"Alhoewel die hoë opkoms in belangstelling die aanbod oorskry, dien dit as aanmoediging om steeds meer bekostigbare behuisingsgeleenthede aan ons mense in die Wes-Kaap beskikbaar te stel," het Marcellino Martin, woordvoerder van die minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers, gesê.
'n Tweede fase Flisp-huise sal tydens die volgende finansiële jaar (1 Julie 2022 - 31 Junie 2023) bekendgestel word.
"Hierdeur stel ons inwoners in staat om bates te bekom wat hulle sekuriteit bied en benut word. Dit verseker uiteindelik dat gesinne die finansiële omstandighede van volgende generasies kan begin verander," het Martin gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'