GEORGE NUUS - As iemand ooit advies wil vra oor wat die resep vir 'n lang gelukkige huwelik is, hoef hul nie verder as die Taljaard-egpaar van George te soek nie.
Kobus (95) en Tokkie (93) Taljaard sal vir hulle kan vertel hoe mens dit regkry om 73 jaar gelukkig getroud te bly.
Hulle het Saterdag 8 Oktober hierdie mylpaal bereik. Hulle kom oorspronklik van Ladybrand in die Vrystaat en is deesdae inwoners van Huis JJ Watson. Hulle is destyds in Ladybrand getroud.
Hul een dogter Susan Wellsted, het Saterdagoggend 'n draai by hulle gemaak en hulle op 'n uitstappie geneem vir 'n groot bederf. Die egpaar het oorspronklik vyf kinders gehad. Kobus, Fred en Susan leef nog en twee broers, Fanie en Louis is reeds oorlede. Hulle het 11 kleinkinders en nege agterkleinkinders.
Volgens Susan geniet haar ouers in die algemeen goeie gesondheid en hul verstand is nog helder. Hulle geniet die lewe en het nog tot verlede jaar op hul eie gewoon.
Kobus het vertel dat hy en sy eggenoot nog nooit kwaad gaan slaap het nie. Hy het haar ook altyd in ag geneem. "Ek het nie afsprake gemaak sonder om haar in ag te neem nie."
Hy speel oop kaarte met haar en hulle het geen geheime vir mekaar nie. Hulle respekteer ook mekaar se terreine.
Sy advies aan jong mense is om dinge uit te praat as daar verskille is.
Tokkie het gesê haar man is nie iemand wat met mense baklei nie. "Hy het nog nooit met my baklei nie."
Volgens haar is kommunikasie tussen huweliksmaats die groot ding en belangrik.
Haar het man het ook baie geduld.
Susan Wellsted by haar ouers, Kobus (95) en Tokkie (93) Taljaard Saterdag tydens hul 73ste huweliksherdenking. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'