Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die riemtelegram in Pacaltsdorp het oortyd gewerk toe dit einde verlede jaar aan die lig kom dat Die Akkertjie-kleuterskool se deure gesluit het. Wat baie dalk nie besef nie, is dat dit allermins die einde van dié historiese kleuterskool is.
'n Geesdriftige projekspan is daagliks aan die woel om die gebou, wat bestaan uit vyf klaskamers, 'n kombuisie, badkamers en 'n kantoor, te restoureer.
Menigte Pacaltsdorpers het hul kleuter-skooljare by hierdie perseel deurgebring. Die kleuterskool is langs die United Congregational Church of SA (UCCSA), die ou klipkerk in Missionstraat, geleë.
Met die koms van eerwaarde Charles Pacalt van die London Missionary Society in 1813 is opdrag gegee vir die bou van 'n kerk. Langs die kerkgebou is 'n tydelike skoolgebou, 'n voorganger van Die Akkertjie, in 1833 voltooi.
Die gebou is later vergroot en teen 1884 is 'n klaslokaal as kleuterskool bygevoeg. In die volgende eeu het nog klaskamers bygekom.
Toe 'n nuwe laerskool in 1972 in Pacalts-dorp ingewy is, is die skooltjie langs die kerk as 'n speelskool geopen. Die gebou is in 1991 opgeknap en as Die Akkertjie-kleuterskool in gebruik geneem.
Die eikebome op die perseel is rondom die 1930's geplant. Eerwaarde Gerhard Human van die UCCSA verwelkom die restourasie van die geskiedkundige kleuterskool.
"Ons beoog om die skooltjie op 5 April met die opening van skole in die tweede kwartaal weer te open. Die kerk speel 'n belangrike rol in vroeëkindontwikkeling," het Human gesê.
Die projekbestuurder van die restourasie-werk by Die Akkertjie, Ingrid Tyler, is passievol oor die projek. Tyler is 'n voormalige gr. R-vakadviseur van Eden en Sentraal-Karoo en het in 2017 uit die onderwys getree.
"Mense kom steeds hier ingestroom en vra wanneer maak Akkertjie oop," het sy gesê. "Hierdie is 'n liefdestaak. Die materiaal en arbeid word meesal geskenk deur inwoners, waaronder die restoureerders self. Dit is absoluut ons missie om die skooltjie weer te heropen en ons mik vir die tweede kwartaal."
VIDEO: Die Akkertjie vernuwe sy dop
Tyler gaan self as bestuurder optree om seker te maak dinge verloop glad.
Volgens Tyler is daar verskillende redes waarom die skooltjie so agteruitgegaan het. "'n Mens moet in ag neem dat dit 'n baie ou gebou is, wat onderhoud benodig. As dit nie gedoen word nie, gaan dinge agteruit. Tydens Covid het ons getalle in die kleuterskool ook gedaal en daarmee saam natuurlik ook die fondse."
Die Akkertjie word gedeeltelik deur die departement van maatskaplike dienste gefinansier. Die toestand van die gebou het Die Akkertjie genoop om sy deure in November verlede jaar te sluit, waarna die kleuterskool gederegistreer is.
Tyler se hoop is om die skool weer voor April by die Wes-Kaapse departement van onderwys te registreer. "Ons het talle bekwame opgeleide praktisyns wat poste benodig," het Tyler gesê.
"Ons beoog twee gr. RR-klasse (een Engels en een Afrikaans) en drie gr. R-klasse (twee Afrikaans en een Engels)."
Donasies van verf (buitemure), plastiek-geute, vloerteëls, los matte en opvoedkundige speelgoed word tans dringend benodig. Vir inligting kontak Tyler by 082 736 1253 of Yvonne van Heerden (restoureerder) by 083 388 8791 of die kerkkantoor by 044 878 0877 (van 08:30 tot 15:30).
Die span wat die opknappingswerk doen is voor, van links: Peter Rooi en Vivian Mondoe. Agter: Raymond Louw, Marissa Rollison en Mandy Croats.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'