WES-KAAP NUUS - Vanjaar vind die Clanwilliam-veldblomskou in volle glorie plaas van Vrydag 24 Augustus tot Sondag 2 September. Bykans 350 plantspesies, almal uit die Clanwilliam-distrik, word tydens hierdie skou in die Blomkerk op Clanwilliam ten toon gestel. Skou-ontwerpers kry die geleentheid om hul eie blomuitstallings op te tower vir elkeen se unieke uitstalling.
Met hierdie blomuitstallings word ’n mensgemaakte landskap gebou wat besoekers die geleentheid gee om die blomme en ander plante te sien wat gewoonlik in afgeleë gebiede voorkom en moeilik bereikbaar is. Rangskikkings van die mooiste veldblomme wat deur die skou-ontwerpers gemaak word, sal jou asem behoorlik wegslaan!
Die dorp het ook ’n groep vrywilligers wat jaarliks help met die bou van die blomuitstallings wat in die kerk uitgestal word. Dit is ’n bewys dat die gemeenskap nie skroom om saam te staan om hul natuurlike wonderwerk aan die publiek te vertoon nie.
Vanjaar se Clanwilliam-veldblomskou sal jou nie net die mooiste blomme bied nie, maar ook interessante medisinale en eetbare plante. Die hele familie word genooi om deel te wees van hierdie skou.
Hierdie immergewilde skou is verlede jaar gekanselleer weens die erge droogte wat die streek ondervind het. Hierdie kansellasie het blomliefhebbers diep geraak. Met die sluise van die hemel wat die laaste ruk behoorlik oopgebars het, sal die natuurlike velde in die Cederberg-streek en omliggende dele ontwaak in ’n helderkleurige ontploffing van blomme.
Die tema kom neer op die feit dat die streek ontwaak ná die onlangse droogte met lowergroen spriete en polle gras wat oral opskiet. Ná die fantastiese winterreën wat oor die streek gestort het, verwag die Kaapse Natuurbewaring ’n uiters suksesvolle blomseisoen.
Die velde is reeds oortrek met verskeie soorte blomme soos die wit suikerkanne, kapokbosse, Clanwilliam-daisy asook die alombekende geel suring.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'