Gallery
GEORGE NUUS - Gereelde GO GEORGE-pendelaars is gefrustreerd oor die ongerief wat die nasionale busstaking veroorsaak en soek ook antwoorde oor multi-ritkaartjies wat vooruitbetaal is. Intussen het Thembalethu-taxi's ingegryp om passasiers van Blanco, Rosemoor en Pacaltsdorp te vervoer.
Gerrit Willemse, plaaslike koördineerder van National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa), sê Numsa het op Maandag 16 April, twee dae voor die staking, tydens 'n vergadering met senior bestuur gesê dat 'n staking nie die oplossing is nie.
Willemse erken dat die nasionale staking in die openbare vervoersektor 'n negatiewe uitwerking op die ekonomie het, aangesien GO GEORGE geen inkomste verdien tydens die tydperk wanneer werknemers nie opdaag vir werk nie, 'n "no work, no pay," reël word gevolg.
Volgens Willemse dink hy nie die staking sal teen Donderdag 26 April eindig nie.
Werkers eis 'n salarisverhoging van 9,5% in die eerste jaar en 9% in die tweede jaar. Hulle het aanvanklik 'n 12% salarisverhoging geëis, maar werkgewers was bereid om slegs 'n 7% salarisverhoging toe te staan. Pendelaars het ook hulle frustrasie en bekommernis op sosiale media uitgespreek.
Tracey Lee Ann October skryf, "Hulle plaas werkers onder geweldige druk. Werkgewers worry nie oor hoe jy by die werk kom nie solank jy daar is. Mense moet loop, maar ons almal betaal belasting."
So skryf 'n pendelaar op GO GEORGE se Facebook-blad.
'n Ander pendelaar, Kelly Hector, skryf, "The question a lot of people have asked and yet to be answered by GO GEORGE, is what if you already paid for your multi-journey ticket, now you have to make alternative arrangements and pay extra to get to work and school. Refund the commuters, that is the least you can do for the people at this stage since you can't say until when the strike will continue."
Petro Hendricks van Rosedale, wat in Heatherlands werk, sê sy deel 'n huurmotor met drie ander vrouens teen R10 elk of sy neem 'n minibustaxi wat ook R10 per persoon kos. Dit is ongeveer dieselfde as 'n GO GEORGE-buskaartjie. Sy sê talle voertuigeienaars bied ook hulle dienste teen R10 per kop tot in die middedorp aan. "Ek was nog nie een oggend laat nie!"
Teen druktyd het George Herald geen terugvoer van George-munisipaliteit, rakende GO GEORGE multi-ritkaartjies en alternatiewe pendelmetodes indien die staking langer duur, ontvang nie. GO GEORGE-busdiens bly opgeskort tot verdere kennisgewing. Volg die GO GEORGE Facebook-blad of skakel 0800 044 044 vir die nuutste opdaterings of navrae oor die staking.
Pendelaars het hulle bekommernis op sosiale media uitgespreek.
'n Numsa met werkers van 23 ander vakbonde neem vandag, Woensdag 25 April aan 'n landwye staking deel. Die staking is uitgeroep teen die voorgestelde veranderings in die arbeidswet en die nasionale minimus loon van R20 per uur.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'